REGSTAPPE om die invloei van onbehandelde riool in die Groot Visrivier te stop, bring hoop dat die staat eindelik sy gesindheid teenoor watervergrype verander.

Die Landbouweekblad berig dat die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie besluit het om die Inxuba Yethemba-munispaliteit met regstappe te dwing om die invloei van onbehandelde riool in die Groot Visrivier by Cradock te staak.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê in ’n verklaring die watersuiwerings-werke by Cradock funksioneer glad nie.

Slegs chloor word by afvalwater gevoeg en hoofsaaklik onbehandelde rioolwater beland in die Groot Visrivier.

Buiten verskeie dorpe en nedersettings stroomaf wat van die rivier afhanklik is, gebruik talle besproeiingsboere ook die water vir onder meer lusern, mielies en ander wei-ding, asook groot melkerye tussen Cradock, Kookhuis en Somerset-Oos.

Water uit dié stelsel word ook ingepomp in die Sondagsrivier, die hoofbesproeiingsbron vir die Sondagsriviervallei se sitrusboere, sowel as in die Nooitgedacht-waterskema wat drinkwater aan die Nelson Mandelabaai se inwoners verskaf.

Nalatig

Rika Featherstonehaugh, DA-wyks- raadslid op Cradock, sê die probleme het in 2014 begin toe die bestuur van die rioolwerke na die Chris Hani-distriksmunisipaliteit in Komani(Queenstown), meer as 150 km ver, oorgeplaas is.

Dit het instandhoudingswerk tot stilstand laat kom.

’n Plaaslike prokureur het al ’n paar keer briewe aan Nomvula Mokonyane, voorma-lige minister van water en sanitasie, ge-skryf, maar geen reaksie gekry nie.

Featherstonehaugh sê boere moet honderde duisende rande bestee aan watersuiwering en alternatiewe waterbronne sodat hulle veilige melk kan lewer. Sy sê die rioolwerke is die afgelope 20 jaar nie vergroot of vernuwe nie, ondanks ongekende groei op die dorp.

“Ons kan nie aanhou om ’n worsmasjien te stop as daar nie omhulsel aan die anderkant is nie.”

Geen aksieplan

Ratau ontken dat die departement tot dusver niks aan die situasie gedoen het nie. Hy sê die departement het in Oktober 2016 ’n opdrag aan die Chris Hani-distriksmunisipaliteit gestuur om die besoedeling stop te sit en die geraakte gebied te rehabi-liteer.

Die munisipaliteit het toe ’n aksieplan ingedien, wat nie goedgekeur is nie omdat dit nie aan die departement se vereistes voldoen het nie.

Daar was geen reaksie van die munisipaliteit op twee verdere kennisgewings verlede jaar om ’n aksieplan in te dien nie. Die departement het die probleem bevestig nadat die DA in Junie ’n beroep op die Groen Skerpioene gedoen het om in te gryp.

Besoedeling: kritiek

Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA, sê dié tipe optrede “gebeur hopeloos te min na ons sin, veral omdat die besoedeling van ons waterbronne by munisipale watersuiweringswerke nou reg oor die land kritieke afmetings aanneem.”

Hy sê verskonings vir ’n gebrek aan optrede weens die beweerde noodsaaklikheid van interregeringsamewerking tussen die departement en die plaaslike regerings wat die besoedeling betref, is bloot nie goed ge-noeg nie.

“Dit is dalk hoog tyd dat die verantwoordelikheid vir alle munisipale watersuiweringswerke na die departement oorgedra word, en nie maar net aan plaaslike owerhede oorgelaat word nie.”

Anthony Turton, ’n onafhanklike waterhulpbronkenner, sê 4.2 miljard liter onbehandelde of gedeeltelik behandelde riool vloei daagliks die land se riviere in.

Hy sê binne die openbare-private- groei-inisiatief (PPGI) word tans aan ’n plan gewerk om private belegging in rioolsuiweringswerke aan te moedig, wat herwinning sal moontlik maak.

Hy sê die departement se optrede is ’n aanduiding dat die administrasie van presidnet Cyril Ramaphosa begin om sy belofte om korrupsie uit te roei, gestand te doen.

  • VERSLAGSPAN: Fredalette Uys, Nico van Burick en Joylene van Wyk (Landbouweekblad)

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article