De rioollekkasie vanuit 7de Laan het ná onlangse reën wel tot in die Nqwebadam gevloei, het personeel van die Camdeboo Nasionale Park verlede week bevestig. Foto:VERSKAF


’n VOORTSLEPENDE rioollekkasie vanuit 7de Laan het ná reënneerslae verlede week wel die Nqwebadam bereik.

Dit ná herhaalde waarskuwings vanuit die gemeenskap en versoeke wat deur die Graaff-Reinet Inwoners en Belastingbetalersvereniging aan munisipale amptenare gerig is om aandag aan die lekkasie te gee.

Personeel van die Camdeboo Nasionale Park het verlede Donderdag ondersoek ingestel en bevestig dat die riool wel die dam bereik het.

Volgens ’n woordvoerder van Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit, is die lekkasie by 7de Laan wel intussen herstel, asook die Tronkdrif/Cypress Grove rioollekkasie.

Intussen is hoërliggende dele van die dorp lang tye sonder water omdat waterkwantiteit uit die boorgate nie tans voldoende is nie. Die munisipaliteit het inwoners van Kroonvale, Adendorp en Wolwas in kennis gestel dat dringende instandhoudingswerk aan die watervoorsieningsnetwerk daartoe sal lei dat dié dele vandag (Donderdag, 21 Februarie) ’n watertekort van 08:00 tot 18:00 kan verwag.

Die munisipaliteit het onderneem om watertrokke na die geaffekteerde gemeenskappe te stuur en inwoners sal ingelig word indien die situasie sou verander.

Inwoners is nie beïndruk met die hoeveelheid tyd wat verloop het totdat die lekkasie uiteindelik herstel is nie, aldus Buks Marais, voorsitter van Granaat: Vriende van die Camdeboo Nasionale Park.

“Dit is uiteindelik herstel ná vyf weke se baklei,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article