Chris Hani raadslid Robbie Venske by ‘n groot rioollekkasie op die hoek van Gemsbok- en Mhlabalaan in Midros. Net om die draai van daar baljaar kaalvoetkinders in die straat. Foto:ELSABé PIENAAR


DIE stank klap mens tussen die oë met die uitklimslag aan die onderpunt van Gemsboklaan in Midros, Middelburg.

Hier borrel liters en liters rou riool daagliks uit ’n drein in ’n belastingbetaler se erf. Straat-af speel kinders kaalvoet in en om die “dam” wat ná die onlangse reën opgestoot het tot by ’n paar huise se voordeure.

“Dis al verskeie kere gerapporteer by Chris Hani munisipaliteit en die departement van gesondheid,” sê raadslid Robbie Venske.

“Maar net soos met die ernstige lekkasie in Stockenströmstraat in die dorp, val ons plei- dooie op dowe ore.”

Enkele strate verder is die uitsig (en reuk) nog meer ontstellend.

“Ons gaan eet baie dae maar doer anderkant by die boompies, want dit vrot só, mens is nie eens honger nie,” sê Engela Meyers, wat al jare lank in Mandelaweg 60 woon.

Hier borrel rou riool opsigtelik uit en loop af in die vier meter diep stormwatersloot, reguit Brakrivier toe.

“Ons het al gevra hulle moet die stormwaterpyp verleng en toegooi, net tot anderkant die huise, maar niks gebeur nie.

“Die kinders word siek aan hulle borsies en hulle magies,” kla Meyers moedeloos.

Die rioolpype wat onder die stormwatersloot moet kruis na die rioolplaas, is al langer as ’n jaar stukkend.

Volgens Venske word dit van tyd tot tyd gelap, maar ’n permanente oplossing word nie bewerkstellig nie.

Dié hoofpyplyn wat riool van Middelburg se dorpsgebied, KwaNonzame woonbuurt en Midros na die suiweringsaanleg moet voer, loop eenvoudig rivier toe, waar dit uiteindelik in die Visriviersisteem beland.

Vandalisme lê infrastruktuur lam

Volgens CHDM woordvoerder Thobeqka Mqamelo werk tans slegs een van Middelburg se vier rioolpompstasies.

Nuwe pompe is wel by die KwaNonzame- stasie geïnstalleer en dié behoort vanaf vandag (16 Januarie) in werking gestel te word. Dit sal hopelik die situasie in Midros begin verbeter.

“Ons word werklik lamgelê deur vandalisme van Middelburg se hoof- pompstasie waarheen al die ander pompe pomp,” sê Mqamelo.

“Kabels word voordurend uitgeruk en gesteel. Dit belemmer die optimale funksionering van die stasie, wat dan natuurlik lei tot rioollek- kasies. Die munisipaliteit doen ’n ernstige be-roep op die gemeenskap om die infrastruktuur wat tot hul voordeel opgerig word, op te pas.”

Komani-Karoo Express het burgemeester Wongama Gela oor die aangeleentheid ge- kontak, wat onderneem het om te reageer ná oorlegpleging met die relevante beamptes.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article