Ronald Terblanche en Robert Bantom staan hier by die mangat wat die lewe vir hulle ondraaglik maak. Foto: NOLAN VENTER


DRIE families van die Newtown-woonbuurt op Fort Beaufort sit nou maande lank al met ’n probleem. En dan is dit ook nie sommer net ’n gewone probleem nie, maar een met ’n klankie.

’n Mangat reg in die middel van hul munisipale wooneenhede is verstop en loop gereeld oor, met katastrofiese gevolge vir die drie radelose families.

Mid-Karoo Express is die afgelope Sondagmiddag deur die families uitgeroep om self na die situasie te kyk. Die mangat se deksel was halfoop en allerhande riool het daaruit geborrel en in die rigting van die twee aangrensende skole gevloei. ’n See van riool het in een van die inwoners se erwe opgedam.

Ronald Terblanche het aan Mid-Karoo Express vertel hoe hy self die voor gegrawe het wat die riool van hul wonings langs die twee aangrensende skole weglei. Luidens hom het hy al telkemale na die Amatola-distrikmunisipaliteit gegaan om hulle oor die probleem in te lig. “Hulle kom blaas dan net die drein oop maar hulle is skaars weg dan steek die pro-bleem maar net weer sy kop uit,” het ’n moedelose Terblanche gesê.

Volgens die ander twee families, Robert en Marie Bantom, asook Theresa Jegels is hulle weens die rioolstank skaam om gaste te ontvang. “Etenstyd moet ek alewig ’n mianghoutjie lig om die klank te verbloem en dit vir ons draagsaam te maak om ons maaltyd te nuttig,” het Bantom gesê.

Omdat hul huise aan die onderent van die woonbuurt geleë is, stoot die riool veral op dae op wanneer daar geen watertoevoer na die woonbuurt is nie.

Selfs die twee naburige skole loop deur. Leerders en opvoeders van die Hoërskool Newtown het aan Mid-Karoo Express vertel hoe moeilik dit is om midde die stank te konsentreer.

By die Primêre Skool St. Josephs speel kleuters gereeld pouses in die rioolwater.

Mid-Karoo Express het raadslid Elten Bantam onlangs rakende die dorp se rioolinfra-struktuur gepols.

Hy het erken dat dit verouderd is en dat van die pompe buite werking is, maar gesê daar is ’n projek tans in die pyplyn om dit op te gra-deer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article