Revive Willowmore dryf dorp se kleurvolle herlewing

'n Muurschildering.
Revive Willowmore muurschildering.

KAROORevive Willowmore blaas steeds nuwe lewe in díé klein Karoodorpie deur middel van gemeenskapsbetrokkenheid en dapper nuwe muurskilderye.

Hierdie nie-winsgewende organisasie is in 2023 gestig om plaaslike transformasie te dryf en het reeds talle opwindende projekte aangepak.

'n Muurschildering.
Revive Willowmore muurschildering. Credit: Verskaf

In Junie vanjaar het Revive Willowmore een van die dorp se grootste sere in die oog aangepak – ’n verwaarloosde gebou wat jare lank leeg gestaan het. In plaas daarvan om dit net op te knap, het hulle ’n kreatiewe sprong gewaag deur die sykant daarvan in ’n kunswerk te omskep.

Sedertdien is meer verbleikte mure in lewendige kunswerke omskep aangesien plaaslike besighede nie net die inisiatief begin steun het nie, maar selfs op hul eie koste muurskilderye op hul persele laat aanbring het.

Die kunswerke is die handewerk van kunstenaar Fourie Ackermann van Friemersheim, wat van die begin af die hart van hierdie transformasie was.

“Sy talent om leë mure in landmerke te omskep, bly mense verstom – elke muurskildery lok bewondering uit,” sê Veronica du Plessis, medestigter en voorsitter van Revive Willowmore.

Du Plessis beskou die betrokkenheid van plaaslike besighede as ’n sterk teken van vertroue in die projek en in die dorp se toekoms.

Sy vind die reaksie van plaaslike jongmense net so bemoedigend. Volgens haar het twee jong mense reeds aangedui dat hulle graag wil deelneem.

Een van hulle, Con-Roy Booysen, gaan binnekort die plaaslike skole se skoolwapens verf – nóg ’n projek wat deur Revive Willowmore geborg word.

Revive Willowmore is steeds op soek na meer geboue om op te kikker.

Ons is ook besig om kunstenaars, plaaslik sowel as van elders, te werf om verskillende style in te bring en die dorp se kunslandskap te verbreed,” sê Du Plessis.

“Hierdie ontwikkelings is meer as net kosmeties. Elke verfstreep verteenwoordig gemeenskapsgees. Dit vertel ’n verhaal van trots, groei, en nuwe moontlikhede in Willowmore. Met elke muurskildery beweeg Willowmore nader daaraan om ’n bestemming in eie reg te word – ’n plek wat besoekers wil ervaar en ’n dorp waarop inwoners trots kan wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article