GRAAFF-REINET is bekend as die vierde oudste dorp in Suid-Afrika, en kan spog met ’n bewaringskultuur wat al geslagte lank gehandhaaf word.
Daarom is ’n kuier in dié dorp nie volledig as jy nie by ten minste één van die vyf museums wat deel uitmaak van die Graaff-Reinet museumkompleks, gaan besoek aflê het nie. Die museums word vir die dorp deur ’n trusteeraad bewaar en ontvang ruim ondersteuning van die Rupert Historiese Huise Stigting.
Mid-Karoo Express sal in die volgende paar weke ’n reeks artikels plaas oor Reinethuis, die Ou Biblioteek, die Ou Residensie, Urquhart-huis, en die Militêre Museum. Vandeesweek is Reinethuis, vlagskip van die museumkompleks in die kollig.
Reinethuis, aan die onderpunt van Pastoriestraat, staan ook bekend as die ou pastorie, en word beskou as die hoofmuseum van die dorp. Die bouwerk daaraan het van 1806 tot 1812 geduur, en dit is onder andere bewoon deur die bekende ds. Andrew Murray sr. en later jare sy seun, ds. Charles Murray.
In 1906 is die pastorie ingerig as afrondingskool vir meisies, en later as koshuis vir onderwysstudente, maar die gebou het verwaarloos en teen 1944 is beplan om dit te sloop. AA Kingwill het gelukkig ’n stokkie hiervoor gesteek, en in 1952 is die bekende argitek Norman Eaton genader om restourasie van dié gebou waar te neem. Op 21 September 1956 is die Reinethuismuseum amptelik geopen. Dit het aanvanklik maar min artefakte bevat, en het werklik eers lewe gekry toe ’n groot mat van die plaas Vrede aan die museum geskenk is. Mettertyd is nog skenkings uit die gemeenskap ontvang, en vandag is die boonste vlak van die museum ingerig as periodemuseum om so outentiek moontlik ’n weerspieëling van die 1812-1850’s tydvak in Graaff-Reinet te wees.
Die kelderverdieping van Reinethuis het ook ’n interessante geskiedenis. Die destydse pastorie het altyd ’n oopdeurbeleid gehandhaaf, en reisig-ers en besoekers kon hier oornag. Die museumargief beskik selfs oor ’n brief waarin David Livingston sy vriend, ds. Charles Murray, bedank vir die tyd wat hy in Graaff-Reinet kon deurbring.
’n Berig uit die destydse Oosterlig vertel van verslaentheid “soos by ’n begrafnis” wat die Graaff-Reinet gemeenskap getref het nadat sowat driekwart van die museum op 1 Mei 1980 deur ’n brand in puin gelê is.
Lede van die Round Table, studente van die onderwyskollege en ander dapper vrywilligers het die brand getrotseer in ’n poging om die waardevolle meubels en artefakte uit die brandende grasdakgebou te red. Vyf mense is in die proses beseer, waaronder die hoof van die brandweer, wat regdeur ’n houtvloer geval het tot in die kelderverdieping. Die gemeenskap, NG gemeente, liefdadigheidsorganisasies en besighede het egter saamgespan, fondse ingesamel, artefakte gerestoureer en die mu- seum herbou onder die waaksame oog van argitek Dirk Visser. Op 9 Oktober 1981 is die museum deur dr. Anton Rupert heropen.
Vandag verskaf ’n besoek aan dié museum ’n hele paar uur se vermaak aan oud en jonk. ’n Replika van ’n massiewe renosterhoring vertel die storie van ’n renoster wat in 1880 in die pastorietuin doodgeskiet is. Benewens waardevolle artefakte in die pastorie en kelderverdieping wat duisende verhale fluister oor vervloë dae in Graaff-Reinet, is daar ook interessante plaastuie en ’n toegeruste ystersmidwinkel in die stalle te sien.
’n Swartakkerdruif wat Charles Murray in 1870 geplant het toe sy seun gebore is, groei steeds in die pastorietuin.



