AS jy hou van rondsnuffel in tweedehandse winkels, maar jy was nog nie by Reinet Relics nie, is daar nie ’n gat in jou opvoeding nie – daar is ’n krater!
Dié oulike plek in Graaff-Reinet is dubbel en dwars die moeite werd om te besoek, want dis nie net ’n winkel nie, dis ’n sentimentele reis en dekor-inspirasie ineen!
Lynne en Peter Moseley het sowat vyf jaar gelede ’n perseel aan die noordekant van die dorp met ’n lieflike uitsig oor Graaff-Reinet bekom. Die gebou is opgerig om as volstruisbroeiery te gebruik, maar het verwaarloos totdat die Moseleys dit onder hande geneem het. Lynne het dit eers net as stoorspasie gebruik, maar nie rekening gehou met haar vermoë om allerhande interessanthede bymekaar te maak nie.
“Mens kan seker maar sê ek is ’n regte magpie,” het sy gesê. “Ek dra gedurig nog iets wat vir my oulik is ‘nes’ toe!”
Lynne het haar interessanthede aanvanklik net op Bidorbuy verkoop, en omdat sy ’n betroubare vervoerkontrakteur gehad het, kon sy ook meubels op dié manier van die hand sit en landwyd versprei. Intussen het die petrolprys drasties gestyg, en deesdae verkoop Lynne meestal net kleiner versamelaarsitems op Bidorbuy.
Des te beter vir Karoo-inwoners, want Reinet Relics se pakhuis is tjokvol oudhede, tweedehandse meubels en antieke gebruiksartikels wat wag om opgeraap te word.
Quirky, is die Engelse woord, wat ten beste met “prettig” vertaal kan word: die meubels by Reinet Relics kan selde as “formeel antiek” beskryf word, maar mens kan nie help om kort-kort te gaan stilstaan en hoor of ’n meubelstuk nie iets fluister oor die huise waar dit al gestaan het en die mense wat dit gebruik het nie.
“Ons koskaste is veral gewild,” het Lynne vertel. “Ek het iemand wat in die ou Transkei en Ciskei hierdie skatte uitsnuffel, en deesdae gebruik mense dit weer in hul kombuise, of as uitstalplek of potplantstasie op stoepe.
“Ek verkoop eintlik net by uitsondering regtig formele antiekhede, soos ’n Victoriaanse of Eduardiaanse meubelstuk. Die outentiekheid van ’n voorheengeliefde meubelstuk spreek, mét sy onvolmaakthede, baie meer tot my!”
As jy Reinet Relics wil besoek, sorg dat jy nie haastig is nie, want daar is veels te veel snuffelgoed om te bewonder! Besoekers van buite Graaff-Reinet moet liefs eers skakel om seker te maak dat Lynne nie uitstedig is nie, want sy reis dikwels saam met Peter, ’n geoktrooieerde rekenmeester, en koop op veilings en kleindorpwinkeltjies voorraad aan. Moet net die dink dié winkeltjie is sommer net ’n “museumbesoek” nie.
“Jy’t nooit geweet jy’t dit nodig nie!” is Reinet Relics se tong-in-die-kies-leuse, en die kans dat jy leë hande daar gaan wil wegry, is baie skraal!



