MENS, dier en plant juig nadat daar verlede week (en veral die naweek) wydverspreide reënbuie oor die droogtegeteisterde sentraal-Karoo uitgesak het.
In die groter Middelburg-area het Schoombee nagenoeg 40mm gehad, terwyl die gebied rondom Willows onge-veer 30mm ontvang het.
Ten noorde van Middelburg het ’n groot storm Saterdagmiddag ’n allemin- tige 50mm in 15 minute laat uitsak, sodat stormwaters die dolleë Verdeeldam ten noorde van Middelburg in ’n japtrap laat oorloop het na die Muil- en Seligmandamme op Grootfontein. Ook die leë Kleinbrakrivier het Saterdagnag sterk afgekom.
Verder suid van Middelburg het reënval steeds net plek-plek geval en sekere areas gaan steeds gebukkend onder droogte.
Volgens Dave Stern, voorsitter van die Sneeuberg Boereunie het boere in die omgewing van Nieu-Bethesda nie almal noemenswaardige of enige reën ontvang nie. “Gelukkig vir ons het die reën wel uitgesak oor die plase waar daar verlede week brande ontstaan het as gevolg van weerlig. Sommige plase het soveel as 84mm ontvang, maar in die omgewing van Wellwood en Allandale baie min, sodat ons nog allermins kan sê dat die droogte gebreek is.”
Volgens Stern materialiseer weinig van die reënvoorspellings wat weekliks gemaak word, en die probleem is dat daar ook nog ’n aantal koue fronte in aantog is.
Stern, wat ook voorsitter van die Distriksunie is, het gesê dat hulle vanweë administratiewe rompslomp van voor af aansoek moes doen om die area tot rampgebied te laat verklaar.
Hoewel die Gatsrivier verlede week deur Nieu-Bethesda gehaas het, het die Bloukransrivier nog nie gevloei nie, en eers wanneer dít gebeur sal dié twee riviere wat ineenvloei ’n merkbare invloed op die vlak van die Graaff-Rei-netdam kan hê.
Teen Dinsdag, 5 Februarie het dié dam se vlak tot 1.6% gedaal (lees op bl. 3).
Noord van Graaff-Reinet wag boere steeds op goeie reën, maar na verneem word het daar wel suid van Graaff-Rei- net in die rigting van Jansenville sinvolle reënneerslae plaasgevind.


