Sagte, deurdringende reën sak die afgelope Sondag op Fort Beaufort neer.Foto:NOLAN VENTER


DIE reën wat die afgelope naweek oor groot dele van die provinsie geval het, was voorwaar ’n welkome lafenis.

Die Oos-Kaap gaan sedert verlede jaar gebuk onder ’n knellende droogte. Temperature het sedert Oktober verlede jaar dikwels bo 40° C gaan draai en baie dorpe in die bedieningsgebied het gebuk gegaan onder erge watertekorte. Vele dorpe was dikwels vir dae sonder water en inwoners is deur munisipaliteite gemaan om water spaarsamig te gebruik.

Die droogte het reeds ernstige afmetings begin aanneem en boere moes in die meeste gevalle hulle vee begin voer en selfs uitdun.

Dit was veral hartverskeurend om beeste en bokke uit vulliskanne te sien eet. Selfs kartondose was op hul daaglikse dieet.

Dorpe soos Adelaide, Fort Beaufort, Alice en die Katriviervallei het goeie neerslae ontvang. By Fort Beaufort het dit vanaf die afgelope Sondag met gereelde tussenposes ge- reën. Boere wat oor die reën gepols is, het hul dankbaarheid uitgespreek maar bygevoeg dat nog baie neerslae nodig is om die lang droogte te verbreek.

Veral tuingeesdriftiges was verheug oor die reën en sien nou daarna uit om hulle verskroeide tuine weer in lushowe te omskep.

Nog reën word deur die Oos-Kaapse weerkantoor vir die provinsie voorspel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article