VERSKEIE donderbuie het sedert verlede Dinsdagaand oor Hofmeyr en die distrik, asook oor Steynsburg en die distrik uitgesak.
Teen Sondagaand het Steynsburg inwoners reeds 50mm gemeet, en daarmee saam het ook hael geval. Verskeie berigte is ontvang van reën- en haelbuie, maar geen berigte van skade is ontvang nie.
’n Veldbrand het hoog in die berge tussen Steynsburg en Venterstad ontstaan toe weerlig Donderdagaand veld aan die brand geslaan het, maar die vlamme is geblus deur die reënbui wat Vrydagmiddag oor die omgewing uitgesak het. Die Steynsburgsloot, wat selde water in het, het Saterdagmiddag in vloed afgekom en was ’n skouspel vir diegene wat naby was met kameras en selfone.
In Hofmeyr het sommige plase tot 100mm van Dinsdag tot Sondag gemeet en wydverspreide haelbuie het ook uitgesak. Geen berigte van skade is ontvang nie, maar boere deel wel mee dat groentetuine deurgeloop het. Die Vlekpoortrivier, noordoos van Hofmeyr, het ook afgekom en dit het ook tot gevolg gehad dat talle plaasdamme weer ’n slag water in het, en dat veesuipings in die veld ook nou weer van water voorsien is.
Daar word ook gehoop dat die reën wat oor Hofmeyr uitgesak het en water na die dorpsdam gebring het, nou die dorp se waterkrisis vir ’n wyle sal oplos (sien bl. 3).
Weerlig het ook ernstige elektrisiteitskrisisse veroorsaak, en op ’n stadium het ’n totale oorlading van krag in ’n gedeelte van die dorp ontstaan. Diegene wat nie vroegtydig hulle elektriese toebehore kon afskakel nie, het groot skade gehad.




