RAAISELAGTIG – dit bly voorlopig die omstandighede rondom die liggaam van ’n vermoorde vrou wat verlede week buite Graaff-Reinet ontdek is.

Nadat die plaaslike polisie verlede week in kennis gestel is van ’n lewelose liggaam langs die N9 na Middelburg, is afgekom op die lyk van ’n blonde vrou, vermoedelik in haar vroeë dertigs, met ’n oop kopwond.

Sy was gekleë in ’n denim en blou hemp.

Die vrou is na bewering die vorige dag in die sakesentrum van die dorp opgemerk, maar geen amptelike verklaring hieroor is al by die polisie afgelê nie.

Daar word vermoed dat die vrou van elders afkomstig is, aangesien niemand wat die vrou se beskrywing pas, plaaslik as vermis aangemeld is nie.

Volgens die plaaslike woordvoerder, kaptein Bradley Rawlinson, is die polisie nou, bykans ’n week later, steeds geen leidrade ryker oor die identiteit van die “Jane Doe” van Graaff-Reinet nie.

Nadat ’n lid van die publiek op Facebook beweer het dat ’n vrou voorverlede Vrydagaand deur ’n groep mans in die mansbadkamer ingedwing is by ’n vulstasie op die dorp, het die polisie sekuriteitskamera’s se opnames nagegaan, maar ook dié ondersoek het niks opgelewer nie.

’n Lykskouing sou gister (19 Junie) op die vermoorde se liggaam gedoen word.

Enigiemand met inligting kan die speurder wat tans die saak ondersoek, adjudant-offisier Leon Weitz, op 082 301 8475 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article