Die wykraadslid Joy Williams van wyk 14 sit met haar hande in haar hare oor die rommel in haar wyk. FOTO: VERSKAF


TALLE versoeke, oproepe en persoonlike gesprekke met amptenare van die munisipaliteit het op dowe ore geval.

Daarom het DA-wyksraadslid Joy Williams van Graaff-Reinet se Wyk 14 nou besluit om haar tot die Mid-Karoo Express te wend asook voorstelle van die publiek te kry om die wyk se rommelprobleem aan te spreek.

Haar wyk is geleë tussen Protea- en Narsingstraat en het ongeveer 5 000 inwoners van wie talle by haar gekla het oor die vuil woonbuurt.

Volgens Williams gaan hulle gebuk onder onwettige rommelstorting, geen gereelde opruiming en swak beplanning.

“Geen wette word toegepas en oortreders mors maar net lustig voort,” sê sy.

Sy is veral besorg oor siektes wat die inwoners se gesondheid kan bedreig.

Williams sê sy het die aangeleentheid bespreek met verskillende rolspelers, insluitend die aangewese munisipale amptenare, maar sonder sukses.

Van haar idees is opruimings-veldtogte en samewerking met ’n plaaslike onderneming wat afval herwin.

Sy oorweeg dit ook om die rommel te omskep in bruikbare produkte, soos bakstene ens.

Voorts beoog sy ook om die EPWP te nader vir hulp.

Mense met voorstelle of wat hulp kan aanbied, kan Williams skakel by 071 335 7942.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article