Deon Mandeka (52) onlangs verkose raadslid, wil ’n verskil in sy Fort Beaufort-gemeenskap maak. Foto:VERSKAF


’n PASTOOR, wat ook ’n bibliotekaris by Fort Beaufort se dorpsbiblioteek is, is verkies tot raadslid in die Raymond Mhlaba Munisipaliteit en wil hom daarvoor beywer om sy plaaslike gemeenskap weer op die wenpad te kry.

Deon Mandeka (52) is in verlede jaar se munisipale verkiesing tot raadslid van die plaaslike munisipaliteit wat Fort Beaufort insluit, ver-kies.

Mandeka, wat op Andrieskraal by Patensie in die Gamtoosriviervallei gebore is het aan Komani Karoo Express vertel dat hy al sedert sy jeugjare in die politiek belangstel met die doel om ’n verskil in sy gemeenskap te maak. Hy woon reeds die afgelope 33 jaar op Fort Beaufort.

Sy grootste droom is gelyke werksgeleent-hede vir almal.

“Daar is baie talent in ons gemeenskappe wat ontgin moet word. Talentvolle jongmense moet geleenthede gebied word om ’n bydrae tot die samelewing te lewer,” sê Madeka.

“Dit maak my verskriklik hartseer om te sien hoe ons jeug hulle aan dwelms vergryp, juis omdat daar nie geleenthede vir hulle is nie.”

Hy sê hy het op ’n plaas grootgeword en weet wat swaarkry is. “My ouers moes daagliks op die lande arbeid verrig vir baie min geld.”

Mandeka beskou dit as ’n voorreg om deel van die nuwe administrasie te wees. Die areas waarop hy wil fokus is dienslewering, bemagtiging en die uitroei van dwelms in die gemeenskap.

Volgens Mandeka is dit vir hom ’n groot bekommernis om te sien hoe sekere gemeenskappe afgeskeep word wanneer dit by dienslewering kom.

“Hier in die Newtown-gemeenskap waar ek bly word vullis dikwels nie verwyder nie. Riool loop in die strate en ligte en water is vir dae aaneen nie beskikbaar nie.”

Dit is juis hierdie kwessies wat Mandeka as raadslid wil aanpak om beter diens aan sy gemeenskap te lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article