Van die 55 bale met sybokhaar wat in ’n verlate huis op ’n kleinhoewe in Rocklands aan die buitewyke van Port Elizabeth teruggevind is.Foto: VERSKAF


SOWAT R3,5 miljoen se gesteelde sybokhaar is die naweek in ’n verlate huis op ’n kleinhoewe aan die buitewyke van Port Elizabeth gevind.

Dié 55 bale sybokhaar is Saterdag in ’n klopjag op ’n vervalle huis in Rocklands gevind.

Die vonds word verbind met die vragmotor-kaping sowat twee weke gelede toe ’n 39-jarige vragmotorbestuurder, wat van Komani onderweg was, in Uitenhage-weg in Noordeinde naby die BKB-maatskappy in Port Elizabeth gekaap is.

Gewapende mans het die bestuurder uit die vragmotor gedwing en in ’n Polo-motor ontvoer. Hy is later die aand ongedeerd op Njoli-plein in die stad afgelaai.

Die polisie het die gekaapte vragmotor dieselfde nag nog in Zwide sonder die vrag sybokhaar gevind. Volgens brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het die polisie die naweek inligting opgevolg wat hulle na die huis in Rocklands gelei het.

Die klopjag is Saterdag omstreeks 12:00 uitgevoer en die bale is aan die BKB oorhandig.

Volgens Kinana is die huis in Rocklands onbewoon en niemand is Saterdag in hegtenis geneem nie. Die ondersoek na die kapers en diewe duur voort.

Intussen doen die polisie ’n beroep op die gemeenskap om met inligting na vore te kom oor ’n soortgelyke kapingsvoorval waarin 37 bale sybokhaar gesteel is. Dié kaping het op 19 September op die R75 naby Despatch, net duskant Port Elizabeth, gebeur.

In hierdie voorval het ’n Audi met ’n blou lig op die dak die vragmotor voorgekeer. Gewapende mans het die insittendes uit die vragmotor gedwing, waarna die kapers in die vragmotor en Audi vort is.

Dié vragmotor sonder sy vrag is in Graaff-Reinet gevind. Die bale, met ’n geraamde waarde van sowat R2,4 miljoen, word steeds vermis. Enigeen met inligting kan ao. John Lourens by 071 352 4706 bel. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article