DIE afgelope naweek het die stof in Nieu-Bethesda se strate nie kans gehad om behoorlik te gaan lê nie.
Die vyfde Pumpalooza-pampoenfees is gevier – dié keer by die Tot-Hiertoe-Padstal, en mense het van heinde en ver gereis om dié geleentheid by te woon.
Die dorp is vrolik getooi in pampoenversierings, ’n spesiale pampoenbier is gebrou deur Sneeuberg-brouery en ’n hele paar bielies is vir die pampoenkompetisie ingeskryf.
Paul en Andrew Schoeman se pampoen van 177 kg was die grootste, en die Schoemans het ook die vyf grootste pampoene ingeskryf.
Die reuse pampoene is ná afloop van die kompetisie opgeveil en ’n mooi bedrag is ingesamel ten bate van outehuise in Middelburg, Graaff-Reinet en Aberdeen.



