Desery Cane haal brood met trots uit die oond. Foto:ELSABÉ PIENAAR


ELIZABETH Morris, ’n sielkundige uit Skotland, het met haar aftrede in 2005 besluit om haar in Graaff-Reinet te vestig. Hier was sy betrokke by die menslike hulpbronne-afdeling van die Karoo Catch-projek, maar moes haar besige lewe in 2016 afskaal nadat sy ’n hartaanval oorleef het.

“Ek was bekommerd dat my huishulp, Desery Cane, van voor af werkloos sou wees indien daar iets met my sou gebeur,” het sy gesê.

Met ervaring wat sy in sosiale ontwikkelingsprojekte opgedoen het in onder andere Malta, Amerika en die Verenigde Koninkryk, het Elizabeth teen daardie tyd geweet dat grootskaalse werkskeppingsprojekte selde slaag op die langtermyn.

“Ek wou Desery graag help om ’n addisionele inkomste te genereer. Omdat sy nog altyd in kook en bak belanggestel het, het ons die moontlikhede daar rondom begin navors. Dít was die begin van Profit with a Purpose (PWP).”

Danksy oorsese donateurs kon hulle ’n buitekamer inrig van waar Desery met haar bakwerk kon begin.

“Nie net het my selfvertroue baie gegroei nie, maar word ek en die ander dames belangrike besigheidsvaardighede aangeleer, soos administrasie, boekhouding en bemarking. Vandag verskaf ek beskuit aan verskeie gastehuise en hotelle in die omgewing, en bak ek allerhande lekkernye op bestelling,” vertel Desery, wat juis met Mid-Karoo Express se besoek ’n vars baksel gesondheidsbrood en knoffelkaasbrood uit die oond haal.

Ná Desery se sukses het ’n paar ander vroue ook by PWP aangesluit. Een van hulle is Denise Balie.

“Ek wou nog altyd klere maak, en kon darem al met ’n gewone masjien stik, maar in 2016 het Rose my begin leer hoe om met ’n ‘overlocker’ te werk, en kon ek uiteindelik my droom verwesenlik,” het Denise gesê.

Denise se gewildste produk is ’n shwe-shwe oorvouromp wat na gelang van die geleentheid in ’n deftiger of eenvoudiger uitrusting verander kan word.

“Kwaliteit is vir my baie belangrik. Mense moenie kan foutvind met iets wat ek gestik het nie,” het Denise bygevoeg.

Haar klere verkoop soos soetkoek op plaaslike markte.

Die bloedjong Chamoné Afrika ontwikkel tans haar eie natuurlike velprodukte, sepies en rome.

“Ek het al ’n paar skoonheidskursusse voltooi, en hoop om eendag ’n skoonheidsalon van die huis af te kan bedryf,” het Chamoné vertel.

Samantha Bulembu, ’n enkelouer met drie kinders, is ’n gebore enterpreneur. Sy het reeds Tupperware, klere en skoene verkoop, maar met PWP se hulp haar besigheid, Sammy’s Bags op die been gebring.

“Ons leer baie nuwe dinge, onder andere kosteberaming, waarsonder mens nie ’n sinvolle wins sal kan toon nie,” het Samantha gesê.

Elizabeth en haar projekvennote Jenny Morris en Rose Wright, het gou besef dat dié een-tot-een mentorskap suksesvol deur ander mense ook aangewend sal kan word.

Dié inkubatormodel word nou ontwikkel, en met die ondersteuning van groot oorsese borge hoop hulle om ’n verskil te kan maak in die lewe van vroue landwyd, veral in landelike gebiede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article