Victor Dercksen is een van die nuwe gr. 8-leerlinge aan die Hoër Volkskool, waar ’n prettige smurfsokkie vir die nuwelinge gehou is.Foto:verskaf


DIE Hoër Volkskool het baie moeite gedoen om hul nuwe gr. 8’s welkom te heet. Dié nuwelinge het vir twee dae in ’n tentedorp by die skool gekamp.

Volgens Wikus Pretorius, kamporganiseerder, het die kamp dit ten doel om leerlinge meer van die skool se werksaamhede, geskiedenis, tradisies en ook reëls te leer, en hulle doen dit al spelende met behulp van spanbou-aktiwiteite.

“Die kamp is aangebied deur senior leerlingraadslede, en help dat gr. 8’s nie reddeloos vreemd voel wanneer hulle die skoolterrein die eerste dag betree nie,” het Pretorius gesê.

Nuwe onderwysers aan die Hoër Volkskool is nie ontsien tydens die jaarlikse gr. 8-konsert nie, en moes ook ’n item lewer. Elcarla Jonkers, Brendan Wiid, Chante Coetzee, Sumaritha Steenkamp en Jané Venter het ’n gewone dag by die skool uitgebeeld, tot groot vermaak van die gehoor. Lynette Truter en Victor Dercksen is aangewys as sottekoningin en -koning.

Daar is ook ’n prettige “sottesokkie” met Smurfies as tema gehou, waartydens gr. 8’s kon litte losmaak vir 2019.

Die personeel het die gr. 8’s welkom geheet, hul sterkte toegewens vir 2019 en die wens uitgespreek dat elke leerling ’n onvergeetlike hoërskool-ervaring by Volkskool sal geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article