Die bykans onbegaanbare paaie van die Newtown-woonbuurt word nou kort voor die munisipale verkiesing geplavei. Foto:NOLAN VENTER


Inwoners van die Newtown-woonbuurt op Fort Beaufort se bloed kook behoorlik nadat lorrievragte vol plaveistene die afgelope paar weke langs dié dorp se onbegaanbare stofstrate afgelaai is.

Vele inwoners vir wie Komani-Karoo Express oor die verwikkelinge gepols het, het te kenne gegee dat dit “weer eens ’n verkiesingsfoefie is”.

“Hulle is hard besig om heuning om ons mond te smeer, maar ons is nie so dom om daarvoor te val nie,” het ’n inwoner wat verkies om anoniem te bly, gesê.

Die Newtown-woonbuurt op Fort Beaufort is een van vele woonbuurte in die Raymond Mhlaba-munisipaliteit waar swak dienslewering aan die orde van die dag is. Riooldreine loop oor, paaie is vol slaggate en vullis word op elke denkbare terrein in die woonbuurt gestort. Inwoners kla ook dat die wykskandidaat in sy afwesigheid skitter.

Geen aandag word aan die gevandaliseerde gemeenskapsaal en biblioteek geskenk nie.

Inwoners voel ook gegrief omdat werkers van ander woonbuurte ingespan word om die woonbuurt se paaie te plavei.

Met Komani-Karoo Express se besoek aan die projek, was daar nie ’n enkele werker van dié woonbuurt in sig nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article