LEDE van die Graaff–Reinet Kankervereniging het laasweek die grasperk om die NG Grootkerk gaan “toets” in voorbereiding op hul 2000 Rose vir Hoop teen Kanker-projek wat môre daar gehou word.
Vrywilligers het tot dusver hard gewerk om die publiek aan te moedig om rose teen R20 elk te bestel.
Die pienk, kunsmatige rose is almal op sosatiestokkies vasgemaak.
Die projek beloof om ’n fees vir die oog te wees en word aangepak om broodnodige geld in te samel vir kankerpasiënte op die dorp en in die omgewing.
Belangstellendes, sowel as diegene wat reeds rose bestel het, kan die kerk môre (Vry-dag) tussen 07:00 en 18:00 besoek om hul rose in die gras-perk te “plant”.
Een gelukkige roosplanter gaan aan die einde van die dag ’n prys ter waarde van R5 000 wen.
Die kankervereniging het hul dank uitgespreek teenoor Andy Johnson van Merino Apteek wat die rose geborg het, Mel Houseman vir die ontwerp van die plakkaat, en die NG Grootkerk vir die gebruik van die grasperk.
Nellie Pienaar, Ninky Bekker, Leon van der Walt, Tweet de la Harpe en Margie Parkes van die Graaff-Reinet Kankervereniging is opgewonde oor die massa pienk rose wat môre op die grasperk van die NG Grootkerk geplant gaan word.


