’n Bedrag van R16 333.60 was aan die organisasies oorhandig. Voor van links: Brunhilda Gallant, Ida Mcpherson, Lindiwe Malambile, Patrick Adams, Apollis Hufkie, Louisa Strydom en Bradley Stoffels. Agter van links is Shane Kramer, Zoleka Poni, Khanyisa Mbunge, Francois Triegaardt, Norman Jordaan, Marlene Lessing en Freek Pockpas. Foto:VERSKAF


SOOS elke jaar vier die Gesamentlike Kerke van Somerset-Oos Pinkster op ’n besondere manier.

Vanjaar was geen uitsondering nie en die geleentheid was weer eens ’n groot trekpleister vir die gemeenskap en die verkillende gemeentes.

Daar is begin deur Hemelvaartdagdienste by W.G. Olivier Primêre Skool, die Hoërskool Aeroville en ’n aanddiens by die “Hope United Congregational” Kerk aan te bied.

Volgens die voorsitter van die Gesamentlike Kerk, Freek Pockpas, het hulle vir 10 aande baie geseënde dienste gehad waar offergawes opgeneem is vir die 2019 begunstigdes naamlik die “Blue Crane Hospice” en die “Victim Support Centre” op Somerset-Oos.

Dit is ’n jaarlikse instelling dat enige nie-winsgewende organisasie voorleggings vir die Gesamentlike Kerke Komitee doen vir finansiële bystand.

Albei die 2019 begunstigdes verrig uitstekende werk in die gemeenskap, maar het altyd ’n tekort aan fondse.

Op Pinkstersondag is die bedrag van R16 333.60 aan die organisasies oorhandig.

Pockpas het gesê, “Deur God se groot genade kon ons hulle van hulp wees omdat Hy ons geseën het om andere tot seën te wees. Ons kon dit egter nie alleen doen nie en ons is die skole en ander kerke en kerkleiers en die gemeenskap oneindig dankbaar vir hulle bydraes.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article