Foto ter illustrasie

Foto: Verskaf

“Ek het op ’n dag besef as ons nie misdaad stopsit nie, gaan ons nie ’n dorp oor hê nie.”

Só sê Ivan Stock, eienaar van CDK Sekuriteit wat sedert 1993 ’n wakende oog oor Cradock en sy inwoners hou.

Stock het eers net alarms in huise en besighede geïnstalleer en vanaf sy kantoor gemonitor.

“Maar, tegnologie het die afgelope jare met 100% verbeter en ons het daarby aangepas,” sê Stock.

In Februarie 2021 het hy kameras by die drie ingange na die dorp geïnstalleer.

“Die pale, met kameras wat ’n wye hoek dek, was nie vyf dae op nie toe vang ons vier mans wat Vodacom se selfoontoringbatterye ter waarde van R225 000 gesteel het.

“Dit het gesorg dat ’n groter sindikaat in Komani (Queenstown), waarmee hulle verbind was, uitgehaal kon word,” sê Stock.

Daarna het die suksesse ingerol en is baie gesteelde voertuie teruggevind en kon die polisie bekendmaak dat misdaad verminder het.

Op die oomblik is daar reeds 46 pale met kameras in en om Cradock se woongebied, maar Stock beoog dat daar uiteindelik 100 pale in die woon- en sakegebied moet staan.

Michausdal, wat nou ook ’n sakeforum gestig het, het hom reeds genader om ook van die kameras by hulle te installeer.

CDK monitor reeds, behalwe al die huise in die woongebied, ook sake-ondernemings sowel as plase.

“Ons werk nou saam met die polisie se Highway Patrol en K-9 van Cradock. Dié samewerking maak regtig ’n groot verskil aan misdaadvoorkoming,” sê Stock.

Die hart van die hele stelsel is gevestig in CDK in Frerestraat waar hulle sedert 2021 saam met die internasionaal bekende firma NAVIC werk.

Alles wat die kameras vir 24 uur per dag opneem word daar op grootskerms gebeeldsend. Alle bewegings word gemonitor.

Die stelsel is ook verbind met die motorvoertuigindeks en kan gesteelde voertuie wat by die polisie aangemeld is identifi-seer wanneer dit by die kameras wat by die dorp se ingange opgerig is, verby ry.

CDK het takke in Middelburg en Graaff- Reinet en het tussen 70 en 80 werknemers.

“Ek het al die kameras, wat tot die veiligheid van inwoners bydra, op eie koste geïnstalleer,” sê Stock.

Dit gaan oor die welstand en veiligheid van die dorp en daarom geniet inwoners dié diens gratis. Maar, die onkostes raak meer en alhoewel hy niemand forseer om ’n bydrae te maak nie, sal ’n vrywillige fooi CDK se diens aan die inwoners net nog meer van ’n veiligheidshupstoot gee.

Ivan Stock. Foto:VERSKAF

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article