Die pampoenfees word gehou ten bate van liefdadigheidsorganisasies op Aberdeen, Graaff-Reinet, Middelburg en Nieu-Bethesda.Foto: VERSKAF

Credit: SYSTEM

AS jy nog altyd wou weet hoe lyk die grootste, sexy-ste of mees buitengewone pampoen dié-kant van die ewenaar, moet jy definitief nie die Nieu-Bethesda Pump Palooza misloop nie.

Dit is die sesde keer dat dié pampoenfees plaasvind, en dit word ten bate van liefdadig-heidsorganisasies op Aberdeen, Graaff-Reinet, Middelburg en Nieu-Bethesda gehou. Vanjaar se feesdatum is 20 April (oor die Paasnaweek) en Chrissie Swarts, organiseerder, vertel dat dié een van die groot gebeurtenisse op Nieu-Bethesda se jaarkalender is.

“Die hele dorp deur maak mense oulike uitstallings en straatversierings met pampoene as tema. Daar word ’n straatmark gehou met allerhande handgemaakte items, interessant-hede en heerlike kos, veral verrassende pampoendisse; en lewendige musiek sorg vir vermaak. Besoekers reis van sover as Johannesburg en Kaapstad om die feestelikhede mee te maak.

“Ons wil graag nog maatskappye en besighede nooi om in te skryf vir ons potjiekos-kompetisie,” sê Chrissie. “Inskrywingsgeld is R500, en ná afloop van die kompetisie word die potjiekos teen R50 per kop aan feesgangers verkoop. Alle fondse wat ons só insamel, word aan ouetehuise in Graaff-Reinet geskenk.”

Die program begin Saterdag, 20 April om 07:30 met ’n pretloop, en vanaf 09:00 kan ingeskryf word vir die pampoenkompetisie. Daar is 13 afdelings waarvoor ingeskryf kan word, onder meer die grootste pampoen, die mooiste pampoenrangskikking en die beste bydrae deur ’n kind.

Baba’s (ses maande tot twee jaar) kan ingeskryf word vir die meneer en mejuffrou Skorsie-kompetisie, kleuters (2-5 jaar) kan wedywer om die titel van meneer en mejuffrou Boerpampoen, en kinders (5-13 jaar) kan inskryf vir meneer en mejuffrou Goliat van Gat.

Om 16:00 word die prysuitdeling en veiling gehou, waarna almal tot lekker laat saamkuier tydens ’n egte boere-opskop.

“Die doel van die naweek is nie om geld te maak nie, maar wel om fondse te genereer vir liefdadigheid,” vertel Chrissie. “Dit kos niks om in te skryf vir die pampoenkompetisie nie, en ook nie om ’n stalletjie by die straatmark te bedryf nie. Ons wil net so veel moontlik voete lok na die fees en ons oulike dorpie.”

Die Nieu-Bethesda Pump Palooza word vanjaar vir die eerste keer by die Tot Hier Toe-padstal gehou. Belangstellendes word aangeraai om betyds slaapplek te bespreek by enige van die oornagplekke op die dorp, of kampeerplek by die padstal te reserveer.

Indien jy wil bespreek of dalk ’n donasie wil maak, kontak Chrissie Swarts op 082 579 7460 of Reinet le Roux op 083 400 2705.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article