Die hospitaal op Komga is na Ruth Hanns (100) die eerste verpleegster op dié dorp, vernoem.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Op die klein dorpie Komga woon die lieflike Ouma Ruth Hanns wat sedert haar geboorte op 9 April 1922 terugkyk na 100 somers van haar lewe van omgee vir ander.

Sy was die heel eerste verpleegster op haar geboortedorp. ’n Beroep wat sy met deernis en absolute toewyding beoefen het.

In erkenning en ter ere vir haar diep spore wat sy in haar gemeenskap getrap het, is die hospitaal op Komga onlangs na haar vernoem.

Alhoewel sy nooit getrou en kinders gehad het nie, was sy ’n ware omgee-moeder vir baie. Sy het haar deur die jare oor vele kinders ontferm en hulle by haar in die huis geneem om te versorg.

Ouma Ruth het haar laerskool-opleiding op Komga voltooi en is daarna na die Hoërskool John Bisseker op Oos-Londen. Daarna het sy verpleging by die verpleegkollege op Boksburg gedoen en later jare teruggekeer na haar geboortedorp om by die Komga-hospitaal, wat nou na haar vernoem is, diens te doen. Sy het ook by die dorpskliniek vir tien jaar diens gedoen.

Ouma Ruth kan nog goed hoor en sien, maar nie veel van haar kinderdae onthou nie. “Al wat ek weet is dat die kinders van my tyd baie meer gehoorsaam was as vandag se kinders,” sê Ouma Ruth.

Gevra wat sy dink van die groot-skaalse probleme in die land soos armoede, beurtkrag, korrupsie, en wetteloosheid was haar antwoord: “Ons moet hard vir ons land bid.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article