OUMA Mailey Botha, een van Adelaide se oudste en mees gerespekteerde inwoners, is oorlede.

Die 94-jarige Botha wat diep spore in dié plattelandse gemeenskap getrap het, is verlede Dinsdag, 2 Julie ná ’n lang siekte in die provinsiale hospitaal op Adelaide oorlede.

Ouma Mailey kort voor haar 93ste verjaar-dag verlede jaar. foto:NOLAN VENTER

Haar heengaan word diep betreur in ’n gemeenskap wat sy jare lank as opvoeder en ook as kerkleier gedien het.

Botha is as ’n nooi Meintjies op 21 April 1925 in Oos-Londen gebore. Haar eggenoot, wyle Samuel Botha, het haar in 1979 ontval. Sy is nooit weer getroud nie en was vir ’n volle 40 jaar ’n wedu-wee.

Tydens Mid-Karoo Express se besoek aan haar verlede jaar het sy nog geskerts dat haar ma altyd gesê het dat jou eerste man van die Here afkomstig is en die tweede van die duiwel. Dit was kort voor haar 93ste verjaardag.

Voor haar aftrede was sy vir 34 jaar aan die onderwysberoep verbonde.

Sy het jare gelede by die Primêre Skool Elandsdrif naby Adelaide afgetree en het 25 jaar diens by dié skool gedoen. Haar seun Colin is tans nog skoolhoof by die skool. Sedert 1951 was sy lid van die Presbiteriaanse Kerk op dié dorp waar sy tot en met haar heengaan ouderling was.

Botha laat haar drie seuns Edgar, Bo en Colin agter.

Haar begrafnisdiens vind eerskomende Saterdag om 13:00 vanuit die Presbite- riaanse Kerk op Adelaide plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article