ELIZABETH Maseti, sover bekend Cradock se oudste inwoner, het op Nuwejaarsdag haar 100ste verjaarsdag herdenk.
Ouma Elizabeth het op die plaas Clover Fields in die Cradock-distrik grootgeword. Sy het ses susters en ’n broer gehad. Sy onthou nog die dae toe hulle jonk was en baie gesing en gedans het saam met die jong mense van die omgewing se plase.
Ouma Elizabeth sê dinge het baie verander sedert die tyd toe sy nog jonk was, maar omdat sy nou nie meer uitgaan nie, weet sy nie veel van die dinge buite die huis nie.
As jong meisie het sy baie kerk toe gegaan want haar ouma het haar altyd saamgeneem. Sy dink dit is daaroor en omdat sy altyd haar ouers gerespekteer het, dat sy so oud is.
Sy het later met John Maseti getrou en hulle het in Miles Camp in Cradock kom woon waar hulle ses seuns en ses dogters gebore is. Dit is nog net die ses dogters wat leef en ouma bly deesdae by een van hulle in Lingelihle.
Sy onthou ook nog die goeie tye toe dit haar werk was om ’n vyf gelling roomkan op haar kop van Miles Camp af stasie toe te dra, sodat die trein dit na Cookhouse, waar daar ’n botter- en kaasfabriek was, kon neem.
Sy geniet nog redelik goeie gesondheid alhoewel haar oë en ore nie meer so goed werk nie.



