DIE Hoërskool Cradock se oud-skoliere en die skool, in samewerking met BKB, het ’n baie geslaagde veeveiling aangebied waar 414 stuks kleinvee en 194 beeste onder die hamer gekom het.
Goeie pryse is behaal en die speenkalwers van Ferdi van Zyl het uitgeblink. Die totale omset was R1,7 miljoen.
BKB se afslaer, Gert Jordaan, bygestaan deur Danie Strauss, Dirk Odendaal, Christo Kleinhans en Simon Barkhuizen, het hulle goed van hulle taak gekwyt.
Die dag is afgesluit met ’n steak-aand in die kerksaal. Die maaltyd is voorafgegaan deur ’n veiling van 30 duiwe wat Pieter Joubert beskikbaar gestel het. Die duiwe sal op 15 Junie ten bate van hul “nuwe eienaars” oor 178km van Murraysburg af vlieg. Die top prys vir ’n duif genaamd Corné, was R6 000 wat deur Gavin Holmes betaal is. Die totale omset van die duiwe-veilig was R54 700.
Die eerste agt duiwe wat op 15 Junie inkom gaan pryse verdien. Eerste prys is R10 000, gevolg deur R5 000, R3 000, R2 000 x 2 en R1 000 x 3.
Charles Garth, voorsitter van die oud-skolierebond, het almal verwelkom en ook bedank vir hul ondersteuning. Skoolhoof, Dirk Cronjé, het meer oor die skool vertel en ook hul ondersteuners van harte bedank.
Die uitstallers was Landini, CAT Motors, Status Toyota en East Care Medical, met Dynamic en Karoo Brokers wat as borge opgetree het.

