’n GROEP polisiemanne en -vroue wat in die 1980’s op Cradock diens gedoen het, het onlangs vir die eerste keer weer “aangetree”. Dié keer was dit vir ’n reünie waar herinneringe, dekades ná hul diens aan dié dorp, ge-deel is.
Volgens Marielize van Zyl (destyds ’n speurder met die rang van luitenant-kolonel), het Gert Goosen (toe kolonel en area-speurhoof vir die Cradock-distrik) reeds in 2020 met die inisiatief te vore gekom om ’n reünie vir Cradock se polisielede uit die jare tagtig te hou.
“Die meerderheid van hierdie lede is reeds afgetree, maar daar is ’n paar wat nog in diens is. Van die oud-polisielede wat die ge-leentheid bygewoon het, het van so ver as Kaapstad, Oos-Londen en Port Elizabeth gekom,” sê Van Zyl.
“In ons pogings as reëlingskomitee om almal op te spoor, het COVID-19 ons planne gereeld in die wiele gery. Maar, uiteindelik kon ons 20 oud-polisielede opspoor en daar was groot opgewondenheid en afwagting vir dié reünie.”
In ’n soeke na ’n lokaal vir die groot kuier was die terrein van die Cradock Polisieklub die aangewese plek, juis oor die goeie tye wat die oud-lede dáár deurgebring het.
“Die weersien van oud-kollegas na twintig en selfs dertig jaar was aandoenlik,” sê Van Zyl.
Almal het heerlik saamgekuier en ge-sprekke het hoofsaaklik gewentel om snaakse insidente en kattekwaad wat aangevang is ten tye van hul diens in die polisie.
Later die aand was daar ’n gewyde oomblik toe ’n kers aangesteek is vir kollegas wat reeds heengegaan het. Oud-lede het hul hoop uitgespreek dat daar weer so ’n reünie in die toekoms gehou sal word.




