Oud-Middelburger Sonja de Beer is gekies om deel te neem aan die derde reeks van Kokkedoor wat vanaf 18 Julie, elke Donderdagaand om 20:00, op die kassie te sien sal wees. Foto:VERSKAF


SONJA de Beer, wat in Middelburg grootgeword het, is ’n deelnemer aan die derde reeks van Kokkedoor wat vanaf 18 Julie op kykNET uitgesaai sal word.

Haar nooiensvan was Du Plessis en al is sy nou ’n Pretorianer, bly sy trots op haar Karoo-herkoms.

Mid-Karoo Express het tydens haar onlangse besoek aan haar tuisdorp, meer by haar gehoor oor haar ervaringe tydens die gewilde kookkompetisie.

Wat het jou laat besluit om in te skryf vir Kokkedoor3?

Sonja: Ek hét nie! Ek het destyds vir die eerste reeks ingeskryf, maar is nie gekies nie. Ek was dus aangenaam verras toe die organiseerders my vanjaar kontak en nooi om deel te neem as een van die onthoukokke.

Wat maak Kokkedoor uniek?

Sonja: Anders as die oorsese programme soos Masterchef, is Kokkedoor nie ’n kompetisie vir individue nie. ’n Onthoukok en ’n kinkelkok (iemand met professionele sjefopleiding) werk saam in ’n span. Dit bring ’n heel ander dinamika en toets nie net jou kosmaakvermoë nie, maar ook jou menseverhoudinge!

Waarom is jy passievol oor kosmaak?

Sonja: Dis my Karoo-wortels én my hart. Om iemand te nooi: kom sit aan my tafel en eet my kos. Kos bring mense bymekaar. Dis asof dit mense tot stilstand bring en ’n geleentheid skep vir mense om mekaar in die oë te kyk en “connect”.

Was jy teleurgesteld dat die nuwe Kokkedoor-reeks nie op die platteland geskiet nie, maar by die Homebrew ateljees in Kaapstad?

Sonja: Allermins! Ons het op pragtige plekke in die Kaapse omgewing aan die uitdagings deelgeneem.

Reeksregisseur Sanet Olivier het weke voor die kompetisie saam met die fotografiese regisseur beelde verfilm wat die nostalgie van die stad vasvang. Saam met onthoukos het ons daarin geslaag om die plaas stad toe te bring, om kreatief te werk en tradisionele kos vernuwend aan te bied.

Dít klink ingewikkeld?

Sonja: Juis nie. Die huishoudkunde onderwyseres in my wil kosmaak toeganklik maak vir almal.

Ek wil mense leer kook soos wat ’n mens by jou ma en ouma geleer het. En om tradisionele geregte só op te kikker dat dit steeds vir die tuiskok maklik is om dit te maak. Kookprogramme het weer ’n passie vir kosmaak by mense wakker gemaak. Kokkedoor is ’n realiteitsprogram – dit boei mense en laat hulle bespiegel oor wie volgende gaan uitval en wie tot die volgende uitdaging gaan deurdring.

Watter deure maak dié nuwe kosavontuur vir jou oop?

Sonja: Ek wil graag my produktereeks, Sonja’s Foods, wat onder meer by Suid-Afrika se twee internasionale lughawens verkoop word, uitbrei.

Ek bied lankal kooklesse aan. Maar wanneer die nuwe Kokkedoor reeks op Donderdae uitgesaai word, gaan ek elke Vrydag daarna kosdemonstrasies by Euro Appliances in die Gift Acres-winkelsentrum, Lynwoodrif aanbied.

Ek vergeet ook nie al my familie en vriende hier in die Karoo nie! Ek gaan weekliks ’n resep vir my skoonsus Danel stuur, wat sy dan as spesiale gereg vir besoekers by Karooroos Padstal kan voorsit!

  • Volg Sonja se kookavonture by Sonja’s Foods op Facebook en #SonjaFoods op Instagram. Die Karooroos Padstal is sowat 5km buite Middelburg op die N10 na Cradock.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article