Wian Taljaard, wat in 2016 aan die Hoërskool Cradock matrikuleer het, het hierdie week op die kassie verskyn in kykNET se nuwe komediereeks, Lui maar op, Belinda. Veteraan-akteurs Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland en Eric Nobbs is in dié reeks te sien. TANYA VAN ZYL het meer by Wian gaan uitvind.

Jy kan tans as “Dirkie” in Lui maar op, Belinda gesien word. Vertel ons meer oor jou karakter.

Dirkie is maar ’n unieke, interessante en effense komplekse jong karakter. Hy het sonder ’n gesin of enige familie grootgeword en het daarom nog nooit mense gehad waarmee hy kon vereenselwig nie, behalwe Juffrou Annetjie wat sy onderwyser was op skool. Die ou mense by die winkel word dan vir die eerste keer in sy lewe ’n gemeenskap en tipe familie vir hom en dan begin hy uiteindelik kans kry om homself te vind. Hy is ’n totale blank canvas wat partykeer effens verstrooid is, maar glad nie dom nie, en daarom is die potensiaal van wat hy eendag kan word, eindeloos.

Wian Taljaard as

Wian Taljaard as “Dirkie”. Foto’s: kykNET
PE Express

Was dit vir jou ’n uitdagende rol om te vertolk? Indien wel, hoekom?

Dit was ’n effense uitdaging om die aanslag van die karakter te vind omdat hy baie maklik irriterend of dom of soos ’n nar kan voorkom; en dis glad nie wat ek en die regisseur, Corné van Rooyen, wou gehad het nie. Ons het lank oor die karakter gepraat nog voor ons begin skiet het en dit het baie gehelp om die karakter reg te pitch. Hy is bietjie meer van ’n introvert as wat ek is, maar dit was nie eintlik ’n uitdaging nie. Ook, die ander akteurs is so goed dat jy nie kan help om net eenvoudig te reageer op wat hulle doen nie.

Hoe het jy dié rol losgeslaan?

Ek was in ’n produksie, Jakkals en Wolf Onbeperk, by die KKNK in Maart vanjaar waarin ek die Wolf vertolk het. Een van kykNET se vervaardigers het ’n vertoning kom kyk en het toe my naam gegee vir die vervaardigers van Lui maar op, Belinda. Ek was gekontak vir ’n oudisie die Maandagmiddag, Dinsdag het ek sommer in Corné se sitkamer ’n oudisie afgelê en die Woensdag het ek ’n oproep gekry wat sê dat die rol myne is. Dit het als baie vinnig en onverwags gebeur.

In ’n neutedop, waaroor gaan Lui maar op, Belinda?

Dit gaan oor die alledaagse lewens van die werknemers by ’n winkel in George, Ian & Ander, en al hulle mannewales, wat hulle kwytraak en hoe hulle mekaar dan eintlik deur alles ondersteun.

Was dit senutergend om saam met groot name in die industrie soos Brümilda en Annelisa te werk?

Ek was meer opgewonde as senuweeagtig. Hulle is so legendaries en ek het grootgeword met hulle gesigte op die televisieskerm in ons sitkamer. Ek was ’n totale 7de Laanfanatic toe ek so 6/7/8-jaar oud was en het plakboeke en lêers vol van die akteurs se foto’s opgestapel, insluitende Annelisa. Ek het verskriklik baie by hulle geleer en hulle het my met ope arms ontvang en het my as ’n gelyke hanteer; so daar was nie eers eintlik geleentheid om senuagtig te wees nie. Ook, hulle is so goed en werk so vinnig dat daar nie tyd was vir nervous wees of te veel in my kop wees nie.

Hulle is so legendaries en ek het grootgeword met hulle gesigte op die televisieskerm in ons sitkamer.
Wian Taljaard

Wat is volgende vir jou ná die reeks?

Ek is weer vir so ’n paar tonele in die nuwe seisoen van Fynskrif, wat later vanjaar wys, te sien. Ek is nou in my finale jaar by Stellenbosch so ek moet nog ’n paar maande klaar studeer. Ons is besig met repetisies vir twee nuwe toneelstukke wat by ons departement se Premierefees gaan wys en dan het ons ’n paar toneelstukke ingeskryf vir die feeste volgende jaar waaroor ons baie opgewonde is. Nou hou ons maar duim vas dat hulle gaan inkom. Maar ’n mens vat maar werk waar jy werk kan kry. Die bedryf is so klein en geleenthede soos Belinda is so skaars dat mens glad nie heilig kan wees oor watse soort werk ’n mens doen nie.

Wat is van jou hoogtepunte in jou loopbaan?

Hierdie reeks is definitief bo-aan die lys. Die Kanna-nominasie vroeër vanjaar vir “Beste Opkomende Kunstenaar” vir Jakkals en Wolf Onbeperk was ook ’n baie lekker, onverwagse oomblik. Om ’n toneelstuk waaraan ek help skryf het en waarvan ek die regie behartig het, Frida Kahlo op ’n Veiling, by twee feeste vanjaar te kon doen, was ook baie fulfilling. En dan ook om met Marthinus Basson (akteur, regisseur) te kon werk toe ek 14-jaar-oud was, wat my ongelooflik baie geshape het.

Cradock is ’n klein dorp in die Oos-Kaap, maar wat dikwels spog met groot talent. Maak dit jou trots om te kan sê jy kom van ’n minder bekende plek in die land, maar dit keer jou nie om naam te maak nie?

Ja en nee. Hier is definitief minder geleenthede omdat mens so ver weg is van die stede af waar meeste van die werksgeleenthede in die bedryf is. Maar ek is baie bly dat ek by Melina Smit dramaklasse kon neem tydens my skool-loopbaan op Cradock. Sy het my liefde vir drama en die verhoog gekweek en sonder haar sou niks van hierdie moontlik kon wees nie. My dansjuffrou, Renee Ferreira is ook een van die individue wat my kreatiwiteit gestimuleer het en deure oopgemaak het. En dan my gesin ook.

Die akteurs van Lui maar op, Belinda is, van links

Die akteurs van Lui maar op, Belinda is, van links, Duncan Johnson, Carmen Maarman, Wian Taljaard, Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland en Eric Nobbs
PE Express

Wie was/is van jou rolmodelle en mense wat ’n impak op jou lewe/loopbaan gehad het tot dusver?

Ek glo nie heeltemal in rolmodelle nie, maar daar is ’n paar mense wat ’n impak op my krea-tiewe lewe gemaak het – direk én indirek. Marthinus Basson was ’n definitiewe rolmodel en het my die meeste beïnvloed omdat ek op so ’n jong ouderdom met hom kon werk. Christiaan Olwagen (akteur, regisseur) se estetika en manier van teks skryf was ook baie influential en badass – ek is ’n groot aanhanger van sy toneelstukke én films. Nicole Holm wat my acting dosent was vir die afgelope ses maande het ook hierdie jaar my persepsie van toneelspeel verander en verbreed. Amelda Brand, die regisseur van Jakkals en Wolf Onbeperk, het ook nogals ’n impak gemaak oor hoe ek teater sien en wat dit kan beteken vir mense en hoe belangrik dit is om verantwoordelik daarmee om te gaan. Corné het ook ongelooflik baie vir my geleer op die stel van Belinda.

Is jy van plan om ook die reeks op TV te kyk?

Oe, ek weet darem nie. Mens kyk maar met ’n kritiese oog, maar dis belangrik om te kyk en te leer en te verbeter. Ek gaan die eerste episode saam met my gesin kyk en dan sal ek miskien later die res op Showmax vang of so, maar ek weet nie of ek alles gaan kyk nie.

  • Lui maar op, Belinda wys elke Maandag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article