STEYNSBURG inwoner, Kathy Bezuidenhout, het ’n organisasie gestig om die dorp as ’n toerisme-bestemming te bemark en dit in ’n veilige en netjiese omgewing te omskep.
Die groep, wat bekend sal staan as die Steynsburg Organisasie, het die hele gemeenskap genooi om betrokke te raak by die projek.
Hulle beplan om eersdaags weg te spring met ’n opruim-aksie in die dorp, waar alle tuinvullis, bourommel en onooglike plastieksakke verwyder sal word.
Bome sal gesnoei word en alle droë takke en blare sal uit die weg geruim word.
Tuinhulp sal verleen word aan bejaardes wat nie meer in staat is om hul tuine self netjies te hou nie.
Leë geboue sal met sorg en op die onkoste van die organisasie herwin, verfraai en herbruikbaar gemaak word.
Al hierdie stappe is daarop gemik om toeriste na die dorp te lok.
Talle reisigers ry deur die dorpie sonder om te stop, maar met al die planne in plek word daar gehoop dat Steynsburg ’n aangename stopplek vir padgebruik-ers sal wees.
Daar word ook beoog om ’n sekuriteitshoofkantoor vir alle inwoners in te rig. Hierdie hoofkantoor sal dag en nag beman word en daar sal altyd personeel beskikbaar wees om uit te gaan as daar ’n noodoproep sou inkom.
Bezuidenhout het alle inwoners aangemoedig om moeite te doen om hierby in te skakel ten einde almal se ore en oë te wees in die omgewing waar hulle woon.
Bezuidenhout skakel ook in by Women Arise en ondersteun, as addisionele lid, ook al hul projekte.
Sy is egter veral opgewonde oor die aktiwiteite wat nou van stapel gestuur gaan word om die jeug (kinders onder 18) te akkommodeer.
Sy versoek ook dat daar beter toesig gehou sal word by kroeë, drankwinkels en sjebeens, omdat daar ’n probleem met alkoholverbruik onder minderjariges is.
Volgens haar veroorsaak dwelmmisbruik en die algemene beskikbaarheid van dwelms in Steynsburg talle probleme. Sy het ouers aangemoedig om op die uitkyk hiervoor by hul kinders te wees.

