JAKES Gerwel Stigting se nuutgerestoureerde skrywershuis op Somerset-Oos is gereed om vandag (Donderdag, 21 Februarie) die eerste skrywers saam met hul mentors te ontvang.
Hierdie mentorskap vir skrywers word vanjaar vir die eerste keer deur die Jakes Gerwelstigting van stapel gestuur en het ten doel om nuwe stemme en stories na die Suid-Afrikaanse literatuur te bring. Die fokus is op sowel Afrikaanse en Engelse fiksie en nie-fiksie wat onderwerpe vanuit eie bodem aanraak.
Die Stigting beywer homself vir die bevordering van die letterkunde in die wydste sin denkbaar en met hierdie opwindende mentorskapprogram bied hulle saam met NB-uitgewers die geleentheid aan belowende jong, ongepubliseerde skrywers om onder die leiding van ervare mentors hul vaardighede te slyp en hul manuskripte te ontwikkel.
Die verdere doel is om manu-skripte publiseerbaar te maak wat aan die uitgewershuis gestuur is, maar nog verder ontwikkel behoort te word.
Sodoende word die opkomende skrywers se hande geneem op die moeilike pad na publikasie en sal hierdie projek die onderskraging bied om van ’n unieke verhaal met hope potensiaal ’n publiseerbare boek te maak. Die eerste skrywers wat aan die projek sal deelneem, is Bronwyn Davids, Engela Ovies, Shana Fife en Sharon Mogoaneng.
Elkeen van hierdie skrywers het uiteenlopende manuskripte met unieke invalshoeke na die uitgewer gestuur – van Davis se memoires, die Noord-Kaapse liefdesverhaal van Ovies, Fife se speurverhaal wat afspeel op die Kaapse Vlakte tot Mogoaneng se roman oor liefde en verlies.
Die gesoute redigeerder Suzette Kotze-Myburgh en die befaamde skrywer Francois Bloemhof is die mentors. Oor hierdie projek sê Bloemhof: “Vir ’n land se letterkunde om te kan aanhou floreer, is dit noodsaaklik dat nuwe skrywers gereeld na vore sal tree – mense met ánder stories om te vertel. Ek sien daarna uit om ons nuwe woordvennote by te staan en sal bly wees as dinge wat ek deur die jare geleer het vir hulle van waarde kan wees.”
Ook Kotze-Myburgh is opgewonde oor die vooruitsigte: “Weens die hoë koste van professionele mentorskap gebeur dit selde indien ooit dat belowende aspirantskrywers ’n geleentheid soos dié kry – die Jakes Gerwel Stigting vul daarmee ’n groot gaping in die Suid-Afrikaanse skrywerswêreld.”



