Beaurin van Jaarsveld. Foto:VERSKAF


EEN van Cradock se opkomende sangers het pas sy BA-graad by Nelson Mandela-universiteit verwerf en beplan om vanjaar op sy musiekloopbaan te konsentreer.

Beaurin van Jaarsveld het matriek in 2016 by die Hoërskool Cradock verwerf en tree sedert sy vyftiende jaar as sanger op.

Alhoewel hy sy sang tydens sy studente- jare ietwat afgeskeep het, beplan hy om vanjaar saam met die Royal Sounds van die Oos- Kaap op te tree.

“Ek het in 2015 my eerste CD uitgegee. Sedertdien het my sang baie verbeter en het ek geleer om my te verdiep in musiek,” sê Beaurin.

Hy het ook saam met sy pa Basil en ma Mila die verhoog gedeel in die gospelproduksie Revelations.

“Ek het baie by my ouers geleer, op en van die verhoog af. Hulle het my ook goeie raad gegee oor hoe om my sangloopbaan te volg.”

Hy skryf graag liefdesliedjies, maar as familie het hulle verlede jaar ’n gospel CD met die titel U ken my hart opgeneem.

Beaurin wou graag musiek studeer, maar sy pa het hom aangeraai om eerder ’n onderwyskwalifikasie agter sy naam te kry.

Aangesien hy nie ’n beurs gehad het nie, was die finansiële druk groot om sy studies op universiteit te voltooi, maar hy voel dat juis dié druk sy geloof verdiep het.

Beaurin sien daarna uit om sy loopbaan as ’n onderwyser te begin en so tussendeur as sanger op te tree.

“Ek wil graag ’n verskil maak in kinders se lewens en hulle help om uit te styg bo hul omstandighede,” sê Beaurin.

Beaurin is bekend vir sy optredes by troues en ander gesellighede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article