Skoolhoofde in die Oos-Kaap is verlig nadat assistente soortgelyk aan dié wat verlede jaar tydens die COVID-19-pandemie by skole aangestel is vir ondersteuningswerk, weer op hul pos is.
Daar is gehoop dat die onderwyser-assistente wat in November 2020 by skole vir ’n vasgestelde termyn aangestel was, vir minstens ’n jaar sou aanbly, maar hul kontrakte het aan die einde van 2021 se eerste kwartaal verstryk.
Die onderwysdepartement het weer 300 000 poste geadverteer en meer as ’n miljoen aansoeke is ontvang. Suksesvolle kandidate is begin November in twee kategorieë by skole aangestel, naamlik onderwyser-assistente en algemene assistente. Hul kontrakte strek tot einde Maart 2022 en hulle verdien R3 800 per maand.
“Ek is bly oor die aanstelling van hierdie jeugdiges by ons skole,” sê Craig Fester, prinsipaal van Newton Primêre Skool op Fort Beaufort, waar 16 assistente aangestel is.
“Al is dit vir ’n beperkte tyd, vervul hulle ’n belangrike ondersteuningsrol én hulle verdien ’n inkomste.”
Yasmyn Meyer, ’n leerkrag wat assistente mentor, het gesê dat hulle waardevolle ondervinding oor onderwys opdoen.
“Van hulle skryf vir onderwyserskursusse in nadat hulle eerstehandse kennis oor die beroep opgedoen het. Hulle is ywerig, toegewyd, gewillig om te leer en positief oor die toekoms,” sê Meyer.



