’n OPVOEDER van die Hoërskool Newtown op Fort Beaufort is besig om ’n positiewe bydrae te maak in die gemeenskap waarin hy werk.
En dit nogal met sierlike danspassies.
Benewens sy opvoedkundige pligte gee die 24-jarige Regan Afrika daagliks van 16:00 tot 18:00 dansklasse in die Newtown-woonbuurt se gemeenskapsaal. Sy groep oefen dikwels ook op Saterdae vir minstens drie ure.
Afrika se passie vir langarm en Latyns-Amerikaanse dans het reeds vlamgevat toe hy by die Hoërskool Cillié in die Baai was. Dit was een van vele buitemuurse aktiwiteite waaraan hy deelgeneem het.
Afrika het al aan vele danskompetisies deelgeneem en heel dikwels met die louere weggestap.
Sy vertoonkas pronk met 30 trofees en niks minder as 15 medaljes. Tans dans hy met Britney Ward in die voor-kampioenskap-afdeling.
Hy het weens sy betrokkenheid by dans al die ganse land deurkruis.
Hy het in sy eerste jaar van studie by die Fort Hare universiteit voortgegaan met dans.
Met sy aanstelling op Fort Beaufort het hy die dansklub “Fort Beaufort Dancing Stars” wat in 2016 platgeval het, weer op die been gebring. Die groep bestaan uit 17 lede met heelwat belangstelling van mense wat wil aansluit.
In ’n onderhoud met Mid-Karoo Express die afgelope week het dié kranige afrigter gesê dat hy groot drome vir die groep het.
Hy wil onder meer graag hê dat hulle in ander provinsies moet gaan meeding maar hulle word deur ’n gebrek aan borgskappe gekniehalter.
Dis sy begeerte dat sy dansers hom sy prestasies moet nadoen.
Ouers het hul dankbaarheid teenoor Express jeens die dansgroep uitgespreek.
“Dit hou ons kinders uit die straat en weg van dwelms en ander euwels,” het een ouer gesê.
“Teen volgende jaar wil ek sogenaamde novice couples afrig met die oog dat hulle die Oos-Kaapse span kan haal om hul provinsie te verteenwoordig,” het ’n trotse Afrika gesê.
Daarna mik hy dat een van sy danspaartjies SA-kleure moet kry en hul land internasionaal gaan verteenwoordig.
Luidens Afrika is dans ’n duur stokperdjie en is dit vir baie ouers nie moontlik om die kostes te betaal nie. Daarom is lootjies en donasielyste die dansklub se enigste bron van inkomste.
Met hul eerste kompetisie in Oos-Londen het die danspaartjie Roshaan White en Athenkosi Daniëls die eerste prys losgedans.
“My grootste droom is vir ons dansers om die Oos-Kaap se naam hoog te hou.
“Dis enige afrigter se droom om sy dansers op nasionale televisie te sien en my dansers beskik oor daardie potensiaal,” het Afrika gesê.
En dan wil hierdie afrigter ook nog sy dansers by SA’s Got Talent inskryf sodat die hele land kan sien hoe goed hulle is.


