’n MAN wat al diep spore by die Hoërskool Cradock getrap het, is vanjaar aangestel as hoof van dié skool.
Dirk Cronjé, wat sedert 1984 klas gegee het in ’n vak wat deesdae as ingenieursgrafika en ontwerp bekend staan, sê hy is van plan om steeds skool te hou sodat hy die nou band wat hy met die kinders en personeel het, kan behou.
“Ek weet dit sal vir my moontlik wees want ek het ’n uitstekende administrasie- en onderwyspersoneel wat agter my staan,” het hy gesê.
Cronjé sê hy wil dít wat CHS voor bekend is, uitbou en versterk en graag voortbou op die goeie balans tussen akademie en sport wat tans bestaan.
“Dié skool is baie spesiaal vir my en ek het ’n passie vir alles wat hier aangaan.
“My lojaliteit kan nooit betwyfel word nie,” het hy gesê.
Hy is ook opgewonde oor die skool se eie sportgronde en die feit dat hulle gedurig besig is om tegnologie in die klaskamers te verbeter.
Die skool se tennis- en netbalbane is pas opgradeer en die skool is ook, sover bekend, die enigste skool in die omgewing wat turf-krieketnette het.
Cronjé sê hy glo aan goeie bemarking en ook dat mense moet saamleef en tred hou met die feit dat dinge elke dag verander.
Hy rig steeds die skool se tweede rugby- en eerste krieketspan af, was vir 20 jaar voorsitter van Winterberg se krieket-unie en vir baie jare sameroeper van die keurders vir die Suid-Afrikaanse Plattelandse krieketspan.
Hy het self op sy dag vir SA Kolleges en OP Platteland krieket gespeel.




