LABIRINT. Dít is die tema van ’n kuns-uitstalling by die Gregg Price kunsgalery op Nieu-Bethesda.
Price, ’n bekende Suid-Afrikaanse swemafrigter én suksesvolle kunstenaar, het sowat ’n jaar gelede sy galery op ’n hoekerf met ’n pragtige uitsig oor Kompasberg en Visbek geopen.
Dié Labirint-groepuitstalling sluit in skilderye, sketse, keramiek- en beeldhouwerke van verskeie gevestigde kunstenaars uit die Suid-Afrikaanse kunslandskap.
Besoekers kan uitsien na werke van onder andere Johan Stegmann, Michelle Legg, Jan Tshikhuthula, Ella Cronjé, Erika Hibbert, Aldo Brincat, Sky Salanje en Ade Kipades.
Die kunstenaars het almal met die tema Labirint in gedagte gewerk en gefokus op mitologie en argetipes.
Price sê sedert die opening van sy galery koester hy die visie om nuwe kuns- tenaars na Nieu-Bethesda en die omgewing te bring.
Hy sal ook graag wil hê dat dié galery ’n ruimte bied waarbinne Suid- Afrikaanse talent vertoon kan word.
Die Labirint-kunsuitstalling duur tot vroeg in Januarie.
Hier kan besoekers op ’n kopreis gaan terwyl hulle in stilte die labirint stap. Daar is ook die geleentheid om deel te neem aan die jaarlikse begeleide kersligwandeling teen sonsak (19:00) op Oujaars-aand.
- Die Gregg Price Galery is op die hoek van Martin- en Gravestraat. Vir meer inligting bel 083 258 3104.




