DIE Hoër Volkskool se Huis Cronjé spog met nuwe koshuisouers: Jaco en Janine van Schalkwyk.

Jaco, oorspronklik van Vanwyksvlei in die Noord-Kaap, was in Carnarvon op laerskool en het aan Paarl Boys’ High matrikuleer. Hy het met sy studie aan die Universiteit van Stellenbosch begin, maar toe voltyds begin rugby speel toe keurders van Westelike Provinsie hom in aksie gesien het. Jaco en Janine het in Bloemfontein ontmoet terwyl hy aan die Cheetahs-rugbyklub verbonde was.

Hy het vier jaar lank Springbok Sewes gespeel en is daarna Italië toe. Met sy terugkeer uit Europa is die paartjie getroud en het hulle hul in Johannesburg gevestig, waar Jaco vir die Leeus op die veld gedraf het.

Die Van Schalkwyks is terug Europa toe, en het in Rome en Bordeaux, Frankryk, gewoon. Terug op Suid-Afrikaanse bodem het Jaco ’n kontrak by die Kings in PE aanvaar.

Ná agt jaar in PE het die roepstem van die platteland die Van Schalkwyks Graaff-Reinet toe gelok, waar Jaco as direkteur van rugby by die Hoër Volkskool werksaam sal wees.

Janine, ’n oud-Bloemfonteiner, het ’n graad in onderwys in Bloemfontein behaal, maar het besef dat sielkunde haar ook fassineer. Vandag spog sy met ’n honneursgraad in opvoedkundige sielkunde en ’n meestersgraad in spelterapie, wat handig te pas sal kom in haar nuwe pos as remediërende onderwyseres aan die Laer Volkskool.

Hulle het twee kinders, Zenicke wat in 2011 gebore is, en haar boetie JJ wat in 2015 gebore is..

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article