DAAR is ’n nuwe jeugdienswerker in Somerset-Oos wat ’n passie vir jongmense het.

Suzette Luwes (25), ’n gelegitimeerde in die N.G. Kerk, het in Julie diens in Somerset-Oos aanvaar.

Suzette Luwes. Foto:VERSKAF

Sy het aan die Hoër Volkskool in Potchefstroom gematrikuleer, waarna sy Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat studeer het.

Tydens haar gemeentejaar by die George/Bergsig-gemeente het sy die jeug bedien. Omdat haar hart sterk brand vir jongmense, het sy in 2018 as jeugwerker in dieselfde gemeente gewerk. Naas prediking is lofprysing (sang en kitaar) ’n groot liefde en het sy by George/Bergsig ook hierdie bediening gelei.

Sy voel sterk daaroor dat sy geroep is om juis ’n verskil te maak en jong mense te lei om werklik anders in die wêreld te leef.

“Wanneer God jou stuur, gaan jou verskonings een of ander tyd opraak, en het jy geen keuse as om te luister nie. Om die waarheid te sê het ek nie eers geweet waar Somerset-Oos is totdat ek genooi is vir die onderhoud nie. God het gestuur, ek kon nie anders nie,” het sy vertel.

Gevra of sy bekommerd is oor die jeug, was haar antwoord “Ja, ek is bekommerd oor die jeug – in ons land en in die wêreld. Maar ek dink ons is net verward. Ons het leiers nodig wat met integriteit, lojaliteit en deernis lei en ek is beslis nie hopeloos oor ons jeug se toekoms in Suid-Afrika nie.

“Ek is só opgewonde oor die avontuur in Somerset-Oos. God het weer eens die enigste, deuslaggewende plan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article