Hetma Michau en die hokkiespelers van Michausdal. Foto:WILNA DE KLERK


’n HOKKIE-akademie onder aanvoering van Hetma Michau, is pas op Cradock gestig.

Hetma, ’n bekende oud-hokkiespeler van die Hoërskool Cradock (CHS), word bygestaan deur haar suster, Tertia. Volgens Hetma is Cradock Hokkie-akademie (CHA) se fokusarea hierdie jaar die Laerskool Michausdal. Dit sal die eerste keer wees dat hierdie jong kinders geleentheid gaan kry om met ’n hokkiestok in die hand te speel.

Om hierdie droom te bewaarheid word inwoners van die dorp versoek om betrokke te raak by hierdie ontwikkelingsprojek onder kinders wat nie so bevoorreg is nie, en ’n bydrae te maak sodat hokkietoerusting vir hulle aangekoop kan word. Dié toerusting sal slegs gedurende oefentye en met wedstryde aan die kinders beskikbaar gestel word.

’n Verdere behoefte is die veilige vervoer van die 15 jong meisies vanaf Michausdal na CHS se hokkievelde en terug ná oefening. Vervoer sal twee keer per week vir drie maande nodig wees. Oefening by CHS sal 90 minute per oefening duur.

Die mikpunt van CHA is om ’n spannetjie vir Michausdal saam te stel sodat hulle ook aan wedstryde kan deelneem. Ander afrigting wat deur CHA gedoen word is 60-minute klasse vir hoër- en primêre skoolleerders en lesse van 45 minute vir voorbereidende en gr. R-leerders. Alle afrigting vind op CHS se hokkievelde plaas. Hetma is afrigter van CHS se eerste span en sy het al groot sukses behaal met kinders wat OP-kleure verwerf het.

’n Pryslys van toerusting is vir borge en belangstellendes beskikbaar. Besighede wat op meer prominente wyse betrokke wil raak, kan ook vir Hetma by 083 377 7097 bel. – WILNA DE KLERK

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article