JAKOLETTE Thiart het pas haar Suid-Afrikaanse kleure vir hengel (‘S.A. Shore Angling’) verwerf en is besig om haar visstokke blink te vryf en haar gerei gereed te kry vir haar deelname aan die Internasionale kompetisie by ‘Flamingo Lodge’ in Angola vanaf 12 tot 17 Mei.

: Jakolette Thiart. Foto: verskaf

Hier sal die Suid-Afrikaanse span wat uit 12 mans, 3 vroue, 3 juniors en 3 meesters bestaan teen Angola, Nami-bië en Engeland deelneem.

Somersetters is baie trots op Thiart aangesien sy hier gebore en getoë is. Sy is die jongste dogter van Louise en Paul Erasmus (reeds oorlede) en dis by haar visvangpappie langs die viswaters waar die saadjie by haar gesaai is. Louise is poubors-trots op haar dogter wat skoonskip maak by die kompetisies.

Thiart het op skool vir die eerste hokkie- en tennisspanne gespeel en in 2002 aan Gill-Kollege gematrikuleer.

Hierna het sy vir 2 jaar in Amerika gewerk waar sy by die Julian Krinsky School of Sport tennis afgerig het.

Terug in Suid-Afrika het sy vir 8 jaar tennis afgerig by die Westman Tennisskool in die Kaap voor sy haar op Grahamstad gevestig het.

Dit is maar slegs die afgelope twee jaar dat sy haar op hengel toespits, maar sy is baie entoesiasties oor haar sport.

Tans is hierdie kranige hengelaar ’n lid van die Kowie Crackers Franchise in die Hamburg/Kasouga gebied.

Verlede jaar het sy by die Nasio-nale Kampioenskappe oor 3 dae in Kasouga die visse behoorlik inkatrol. Sy het dag een gewen en in die top 3 geëindig en sodoende die Suid-Afrikaanse ‘Rock and Surf Super Pro League’ (RASSPL)-span gehaal.

Verlede jaar het sy die Kasouga-kompetisie teen EP Raggies gewen.

Vanjaar het sy die Hamburg teen Border Blacktips gewen asook die kompetisie teen Gauteng Blacktails waar sy ook die grootste eetvis, ’n kabeljou, gevang het.

Sy het ook die grootste haai uit die water getrek by ’n kompetisie in Port Alfred en as wenner van die Kasougakompetisie uit die stryd getree.

Sy verduidelik dat RASSPL (Rots- en strandhengel) daaroor gaan dat so veel as moontlik verskillende spesies gevang moet word. ’n Hengelaar kry bonuspunte vir groter visse.

Hoe meer spesies gevang word, hoe meer punte kry die hengelaar vir die dag. Verskillende spesies tel ook verskillende punte en die algemene spe-sies tel dan die minste punte. Die visse moet ook ’n sekere grootte wees om punte te kry. Sy lê klem daarop dat die visse gevang, geweeg en dan weer in die see teruggesit word.

“Verskillende aas vang verskillende spesies en die hoekgrootte, dikte van jou lyn en vanggebied bepaal wat jy moontlik kan vang,” voeg sy passievol by.

Jakolette en haar man, Pieter, be-dryf reeds die afgelope 8 jaar die Thiart Tennis-akademie in Grahamstad.

“My man het nou ook maar begin visvang. Seker moeg van ‘fisherwoman’s husband’ speel,” sê sy.

Thiart het pas teruggekeer van vanjaar se nasionale kampioenskappe in Port Elizabeth.

Hier het die visse behoorlik gebyt en haar katrol het gesing en so het sy weer die S.A.-span gehaal wat volgende jaar in Struisbaai aan ’n internasionale kompetisie gaan deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article