Maryka Wasserman (links) ma van wyle Marco en Christo Wasserman het die Marco Wasserman-trofee aan die Hoërskool Pearson se tennisspan oorhandig as wenners van die A-liga.


DIE Wasserman-tennistoernooi is vanjaar vir die negende agtereenvolgende jaar deur die Hoërskool Middelburg aangebied.

Skole van Jeffreysbaai, Makhanda (Grahamstad) en Port Elizabeth het aan die toernooi deelgeneem wat op 23 en 24 Augustus gehou is.

Marco Wasserman, na wie die toernooi vernoem is, het op 14 Oktober 2006 as 17-jarige gesterf in ’n motor- fietsongeluk. Twee weke later het sy 19-jarige broer Christo in ’n motorongeluk buite Middelburg gesterf.

Dié dubbele tragedie wat die seuns se ma Maryke en hul suster Mariska getref het, word die afgelope 12 jaar herdenk deur die aanbieding van dié tennistoernooi.

Marco was ’n kranige tennisspeler en dit was veral in dubbels waarin hy uitgeblink het. Almal wou graag sy dubbelsmaat wees.

Sy leuse was om ’n “no blame game” te speel en dit is ook die doel en inspirasie van die Wasserman-toernooi. Dat dit oor tennis en sportmangees gaan en dat tennismaats mekaar nie moet blameer vir foute op die baan nie.

Albei broers was briljante sportmanne wat provinsiale kleure en SA-titels verwerf het. Daarom word daar aan albei erkenning gegee in die toernooi.

Die Marco Wasserman-trofee is in die A-Liga deur die Hoërskool Pearson gewen met Volkskool tweede, Middelburg derde, Framesby (Port Elizabeth) vierde, De Aar vyfde en Union High sesde.

In die B-Liga is die Christo Wasserman-trofee deur Aliwal-Noord gewen, met Middelburg tweede, Union High derde, Global Learning Academy (Jeffreysbaai) vierde, Volkskool vyfde en PJ Olivier (Makhanda) sesde.

Verskeie ander pryse is ook tydens die toernooi oorhandig, soos die seënboks vol verrassings.

Die doel van die seënboks is dat Middelburg hiermee hulle seën saam met ander spanne wil uitstuur sodat hulle mense in hul gemeenskap daarmee kan gaan seën.

Hierdie jaar is twee seënbokse aan die spelers van De Aar en Framesby oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article