< Ds. Chris du Raan en ds. Hanneke van Vuuren by die nuwe kateder. foto:DEONETTE HAGGARD


DIE kerkraad van die NG kerk, Somerset-Oos, het besluit om die erflating van Melt van Niekerk, ’n jare lange inwoner en lidmaat van die Kerk, op ’n sinvolle en tasbare wyse te laat voortleef.

Daar was ’n behoefte aan ’n kateder wat aan die agterkant groter spasie gehad het om onder meer boeke, ensomeer te kan hou. Kontak is gemaak met Ben Blom van Eagle Hout op Bedford en koppe is bymekaar gesit om in hierdie behoefte te voorsien.

Die kateder moes esteties inpas by die pragtige preekstoel wat as agtergrond daarvoor sou dien. Daar is toe besluit om kerfwerk op dieselfde patroon van die preekstoel op die kateder aan te bring.

Daar is besluit op swarthout omdat die hout waarvan die preekstoel gemaak is nie beskikbaar is nie. Tot almal se vreugde is die kateder baie onlangs in die kerk staan gemaak. Ds. Chris du Raan sê die kerkraad is baie tevrede met die kunswerk en dat hulle trots is op die fraai sierstuk wat baie goed met die houtwerk in die kerk saam-smelt.

’n Gesete inwoner van die dorp het opgemerk dat, “Oom Melt baie tevrede sou wees met die mooi eindresultaat.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article