IN sy Eeufeesgedenkboek, uitgegee in 1952 tydens die eeufees van Middelburg, skryf H J H Vermeulen soos volg: “Omstreeks 1770 het die blanke uitbreiding van die Kaapkolonie ’n noord- en noordoostelike rigting ingeslaan. Hierdie uitbreiding het dan gebots met die Boesmans noord van die Sneeuberge. Teen die einde van 1779 trek drie Van der Walts, goeie vegters, saam met ‘n paar ander boere en hul gesinne uit die Sneeuberg na Rhenosterberg, in die hartjie van Boesman-wêreld.”
Een van die gesinne, Petrus Venter, sy vrou Maria en hul sewe kinders, twee dogters en vyf seuns, het op 14 Desember 1779 omstreeks middagete aangekom by ’n bosryke poort waar die gras welig gegroei het en waar helder water uit twee fonteine geborrel het.
Die osse is uitgespan en laat wei. Die twee dogters was by die wa en is aangesê om die osse aan die voorkant te keer dat hulle nie te vêr inwei in die poort. Pa het vuurmaakhout bymekaar gemaak sodat Ma middagete kon maak. Die vyf seuns was by die vee wat op die vlakte suid van die poort gewei het.
Oompie Xau en sy uitgebreide familie het in die kliprante aan die noordekant van die poort gebly. Elke oggend het hy twee jong manne as verspieders teen die westelike hang van die poort laat uitklim. Vandaar kon hulle die vlaktes rondom die poort sien.
Wanneer die wild in aantog was het Xau en sy jagters dit bekruip en die twee of drie bokke wat hul nodig gehad het met hul pyl en boë geskiet.
Die oggend van 14 Desember 1779 het die verspieders met ontstellende nuus teruggekom. Trekboere was besig om die poort van die suidelike kant te nader met ’n wa en osse en ’n ent agter die wa het perderuiters ’n groot klomp skape en ’n klompie beeste aangejaag. Oompie Aux was briesend. Hy en sy krygers het die poort van die noordekant bekruip.
Petrus het vinnig geëet en sy dogters geroep om te kom eet, maar hulle antwoord nie en hy sien ook nie die osse. ’n Ent voor hom sien hy ’n groot doloriet-rots wat teen die hang afgerol het.
Hy klim bo-op die rots sodat hy oor die welige plantegroei kan kyk of hy die osse en die kinders kan sien. Hy snak na sy asem, want voor op die rots lê sy twee dogters se lewenslose liggame. Daar is geen teken van die osse.
Met die hulp van die seuns en half geleerde osse slaag hulle daarin om sy wa en die twee dogterlyke uit die poort te kry voor donker.
’n Week later is Petrus terug in die poort met sy wa en osse. Twee Van der Walts, vermon in vroueklere, sit voor op die wa en agter in die watent, die klappe dig toegemaak, skuil hy en nog ses mans met hul gewere.
Die wa kom tot stilstand, die osse word uitgespan en die twee “vroue” beweeg voor om die osse om te verhoed dat hulle te vêr die poort inwei. Onder hul rokke houvas die “vroue” hul gewere.
Oompie Xau en sy krygers verskyn meteens tussen die bosse en storm met hul assegaaie op die “vrouens” af.
Die “vrouens” ruk hul gewere onder hul rokke uit, twee skote klap en twee krygers sterf.
Met die knal van die skote spring die ander boere van die wa en storm nader. In die kort veldslag wat volg sneuwel byna al oompie Xau se krygers behawe hy en sy oudste seun.
Hulle hardloop koes-koes agter die bosse teen die oostelike poorthang uit met die boere skietend agterna en verdwyn in ’n spelonk halfpad teen die hang uit. Die boere weet dit is lewensgevaarlik om die spelonk binne te gaan en pak die nou ingang toe met swaar klippe.
Daar is later vasgestel dat oompie Xau en sy seun van honger en dors in die spelonk gesterf het.
Die poort is verdoop na Moordenaarspoort te wyte aan die dubbelle moord wat hier gepleeg is, eers die twee Venter dogters en toe oompie Xau en sy seun. Middelburg se somberste geheim!
Vandag, 240 jaar later, leef die nasate van die trekboere en die Boesmans as een nasie in vrede saam in een land, en praat dieselfde taal, Afrikaans.


