Die vrolike voorraad by In die Hartjie. Foto: JOHANETTE PHOTOGRAPHY


KLEURVOLLER as al die vrolike voorraad by In die Hartjie-geskenkwinkel sal jy nie sommer elders in Middelburg en omgewing kry nie.

Vriendelik word jy deur Anél, die eienaar, of Wilna, haar assistent gegroet. Hierdie is een van daardie lekker rondkrap, kuier-kuier-snuffelwinkels waar mens verseker nie leeg uitstap nie . . . hetsy dit iets is wat jy gekoop het, idees wat jy met die oog gesteel het of sommer net daardie warm-hart-gevoel wat oorloop van lekkerte van alles wat jy in so klein spasie ge- sien het.

As jou ma jou van Husse met lang ore vertel het, is die ware Husse hier te koop! Taaibekkies se lekkergoed en die heerlikste kolwyntjies op die toonbank verlei jou nog net daardie ekstra trappie verder.

Buite op die grys muur staan daar in wit ge-verf “In die Hartjie is in die Karoo waar die skapies blêr, waar die kindertjies kan lag en kaalvoet speel, waar die windpompie kan draai en water mors” en dit is inderdaad so. Met jou eerste tree in die winkel, kry jy al die idee van laggende kindertjies en met die uitstap, groet die windpomp jou tot volgende keer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article