EK het met spookstories groot geword. Gehoor van ooms en tannies wat spoke gesien het. Van vurige oë wat jou in donker nagte deurboor. Van kettings wat sleep en breekgoed wat breek.

Dus was ek maar lugtig. Veral in die donker. Spoke en lyke was vir my die grillerigste van grillerig, maar ophou uitvra en luister? Nooit.

Net voor ek toentertyd se standerd sewe in Januarie begin, kuier ek by Oupa en Ouma op hulle dorp. Die tyd breek aan dat ek moet terug.

Ma-hulle draai vas en kan my nie kom haal nie, maar hulle belowe hulle sal reël dat oom Jan-Gat my oplaai. Ek weier volstrek, maar Ma se besluit staan so vas soos die berg Ararat.

Oom Jan-Gat is die begrafnisondernemer en ’n jarelange vriend van my ouers. Hy neem die Saterdagmiddag ’n begrafnis waar en kom laai my daarna op. En die doodskoot vir my? Hy kom laai my op in sy lang, slap, swart lykswa. Hewig ontsteld bekla ek my lot.

Ouma is simpatiekgesind en verseker my dat ek niks het om voor bang te wees nie. Dis tog ’n leë lykswa. Wat sy nie verstaan nie, is dat behalwe vir die rillerrit, ek my sou dood skaam om deur my vriendinne in die doodskar gesien te word. Skande der skandes. Heuwels bedek my…

Oupa, terggees wat hy is, vertel allerhande stories oor doodskiste, lyke en geraamtes.

“Het jy gehoor van die man wat in sy kis op pad begraafplaas toe bygekom het?” Ouma vermaan Oupa oor sy verspottigheid, maar ek kan sien sy sukkel om ’n glimlag te onderdruk.

Ek loop die dorpie plat op soek na ’n geleentheid. Maar nee, die een slag ’n os en die ander trou ’n vrou en dus is my plek voor in die swart spookkar bespreek.

My gesig hang halfmas en ek kan om die dood nie vrede in my hart vind nie, want ou spookstories spook in my kop. Ek voel later soos ’n terdoodveroordeelde met die wysers van die horlosie wat meedoënloos voorttik.

Só breek die afskeidsuur aan. Oom Jan-Gat is sy joviale, aardbol self toe hy my by Ouma-hulle kom oplaai. Sien my traag- en skrikkerigheid en lees my soos ’n boek. So ’n entjie uit die dorp noem hy terloops dat daar wel ’n lyk agter in is, maar dié is gewis baie dood.

“En daar’s niks om voor bang te wees nie, Kinta.”

Oom Jan-Gat vertel giggel-grappies en dis toe nie so vreemd in die lykswa nie. Ek sit later heel ontspanne terug teen die sitplek se leuning.

Skielik is daar ’n harde gesteun van agter af, gevolg deur besliste skraapgeluide. Voos geskrik, skiet ek voor teen die paneelbord vas waar ek vassuig en om verlossing smeek.

Vreemde huilgeluidjies . . . ’n geskuifel . . . Pieringoog loer ek na oom Jan Gat, maar dié se maag skommel soos hy lag. Al wat ek in my geskokte toestand kan wonder, is hoekom die simpel ou oom so lag.

Ek het oom Jan-Gat lankal vergewe en hy het ook al sy beurt binne-in ’n kis in ’n lykswa gehad. Maar nooit, sedert daardie dag, het ek weer so wit soos ’n spook en omgeëllie by die huis aangekom ná ’n vakansie nie.

Almal wat die storie hoor, skud maar net kop en lag saam. Daar was toe nooit ’n lyk agter in die lykswa nie. Platjie wat oom Jan Gat was, wou hy my maar net ’n bietjie laat sweet by die gedagte.

Daar was wel ’n hond met haar werpsel in ’n kartondoos agterin.

En hoe moes oom Jan Gat kon raai dat hulle die “spoke” in dié skrikstorie sou word? Of het hy dit aspris so beplan?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article