CRADOCK is in rep en roer vir vanjaar se kosfees wat reeds vanaand (Donderdag) begin met ’n kuier in die Victoria Manor waar die Silver Creek Moutain Band gaan optree.
Die kosfees se volle program sal van Vrydag-oggend in volle swang wees.
Die kosfees bied ook geleentheid om die na-week se ekstra kilojoules op jou fiets of met jou hardloopskoene aan, te verbrand.
Saterdag kan atlete reeds van 08:00 die oggend op die bekende Sanctuary-gaste-en-avontuurplaas, 14 km buite Cradock, litte losmaak met die pekan-voetpadwedloop (pecan trail) oor 15 km of 6 km. Deelnemers volg ’n roete al langs die Groot Visrivier en deur pekan- boorde, voordat hulle in ’n asemrowende tuin met ’n duisend roosbome eindig.
Daar gaan heerlike piekniekmandjies vir deelnemers en besoekers beskikbaar wees waarin pekanneute, roosterbrood, tuisgemaakte konfyt, biltong, organiese sap en meer verwag kan word.
Besonderhede kan verkry word deur ’n e-pos na thepecantrails@gmail.com te stuur of Esmarie by 084 490 2098 te bel.
Sondag, 28 April, vind die gewilde Swaers-hoek-bergfietsmarathon oor 80 km, 40 km en 20 km plaas. Volgens die organiseerders word soveel as 150 fietryers van verskillende fiks-heidklasse vir die groot dag verwag.
Sterk kompetisie word vanjaar verwag wanneer Jason Meaton, verlede jaar se wenner, sy titel kom verdedig. Hy kan egter seker wees dat manne soos Tiaan Naudé, Minnaar Lyell, Gordon Gilfillan en David Pringle hard in sy nek gaan blaas.
In die vroue-afdeling word Olivia Moolman onder die voorlopers verwag, gevolg deur Kay Gilfillan en Liezl van der Schyff.
Deelnemers aan die 80 km-wedren steek die Swaershoekpas oor waarna hulle die 40 km en 20 km roetes deur enkelspoor- en Jeep-paad- jies volg. Hulle kan deel in ’n asemrowende uitsig wat oor bykans die hele roete strek. Onderskeie wegspringtye is Sondag 08:00, 08:30 en 09:00 by die gholfklub waar hulle ook ná vol-tooiing van hul wedren weer sal aanmeld.
Besonderhede kan verkry word by www.swaershoekmtb.co.za of by Marise by 076 182 5730.


