Vervolg vanaf bl. 1
DIE nasionale kragvoorsiener het in Oktober verlede jaar óók gedreig om krag te sny indien geen betalings ontvang sou word nie, en albei munisipaliteite het aangedui dat ooreenkomste met Eskom bereik is.
IYM burgemeester Ray Shweni het Vrydag tydens die munisipale raadsvergadering in Midros aangedui dat R6.2 miljoen in Februarie betaal is ten opsigte van die lopende Eskom-rekening, maar dat Desember en Januarie nie betaal is nie.
Die munisipaliteit het glo wel verlede week met Eskom onderhandel, maar desnieteenstaande is die Eskomkennisgewing oor beplande onderbrekings steeds in ’n bekende dagblad gepubliseer.
Ook BNLM was die Eskom-kennisgewing nie te wagte nie.
In ’n media-verklaring het BNLM te kenne gegee dat Eskom wel Oktober verlede jaar ’n ooreenkoms opgetrek het wat deur die munisipailteit onderteken is, maar dat Eskom self nie die ooreenkoms geteken het nie.
“Tegnies gesproke is daar dus geen ooreenkoms aangegaan nie,” het die verklaring gelui.
Die munisipaliteit het die hulp van ’n konsultant ingeroep om verdere ondersoek te doen en sal ná oorweging van die konsultantverslag verdere samesprekings met Eskom voer.
“Ons is van mening dat alles moontlik gedoen sal word om die beplande onderbrekings te voorkom. Die munisipaliteit is daartoe verbind om te verseker dat geen kragonderbrekings ingestel sal word nie.”
Die media-verklaring het afgesluit met die belofte dat die gemeenskap ingelig gehou sal word oor hoe die onderhandelinge ontvou.
Mid-Karoo Express het navrae aan Eskom gerig, maar hoewel hulle ontvangs erken het, het hulle teen druktyd nie op enige navrae gereageer nie.
