VERVOLG VANAF BL. 1

“DIE munisipaliteit moet oop kaarte speel ten opsigte van die water-, elektrisiteits- en infrastruktuurprobleme,” het Derek Light gesê.

“Ons kan nie toelaat dat Graaff-Reinet dieselfde pad as Makhanda (Grahamstad) stap nie.” Light het dit bepleit dat BNLM met werklike syfers na vore kom sodat daar saam na oplossings gesoek kan word. “Die sentrale regering móét ook betrek word, want hulle het met gedwonge samesmelting hierdie monster geskep,” het Light gesê.

Begroting

BNLM het by die vergadering die versekering gegee dat finansiële verslae ingevolge seksie 71 en 52 op die BNLM-webblad beskikbaar is. Jantjies van die Black Business Forum het beklemtoon dat wanpraktyke in die munisipaliteit bydra tot BNLM se opgeblase uitgawes. “Werknemers daag byvoorbeeld aspris laat op vir dringende onderhoudstake ten einde oortyd te verdien, terwyl toesighoudende amptenare wegkyk. Daarby word amptenare wat munisipale eiendom steel, aangestel in verantwoordelike posisies – hierdie tipe korrupsie kan nie toegelaat word nie.”

Jantjies het dit ook bepleit dat die munsipaliteit strenger optree teen wanbetalers. “Selfs BNLM amptenare skuld die munisipaliteit groot bedrae, en besighede maak wins vanaf munisipale huureiendomme sonder dat huur van hulle ingevorder word,” het Jantjies uitgelig.

Water

Volgens Byron Koeberg, BNLM wateringeneur, is die stand van die Nqwebadam 1.7% en huidige boorgate is onvoldoende om in behoeftes te voorsien. Droogtehulpfondse van R30 miljoen is op 29 Maart ontvang, maar administratiewe rompslomp laat die proses sloer. Watertrokdrywers sukkel toenemend met oproerige inwoners, en die hulp van die SAPD moet soms ingeroep word om die veiligheid van drywers te verseker.

“Ons is wel van mening dat, ná afloop van die aanwending van die droogtefonds, ons voldoende waterbronne vir die toekoms sal hê. Intussen sal ons alle moontlike kommunikasiekanale aanwend om die watersituasie deurgaans aan die gemeenskap te kommunikeer.”

Eskom

De Vos het die vergadering ingelig dat COGTA en SALGA tans gesprekke tussen Eskom en BNLM fasiliteer, aangesien dispute tussen die twee partye nog nie opgelos is nie.

“Ons hoop wel om voor 16 Mei ’n ooreenkoms te bereik sodat BNLM nie verdere kragonderbrekings in die gesig sal staar nie.”

Belanghebbendes het hul bereidwilligheid uitgespreek om die munisipaliteit te ondersteun in hul onderhandelinge met Eskom, ten einde stabiliteit in die BNLM-distrik te verseker.

“Dit was ’n sinvolle vergadering,” het De Vos ná afloop opgemerk. “BNLM wil beslis hande vat met die gemeenskap sodat ons saam uitdagings die hoof kan bied.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article