Die Wanted-klub se lede voor Huis Karee op Middelburg tydens hul ‘Toilet Run’ uitreik-aksie. Foto:VERSKAF


BRULLENDE motorfietse van die Wanted-motorfietsklub het bejaardes van Huis Karee op Middelburg verras met hul “Toilet Run” uitreikprojek.

Die “Toilet Run” is uniek aan die motorfietsklub. Dit is geskoei op die jaarlikse “Toy Run” waaraan motorfietsklubs regoor die land deelneem om sagte speelgoed vir behoeftige kinders in te samel. “Toilet Run” het ten doel om toiletware soos ongegeurde lyfrome, seep, tandepasta en toiletpapier vir bejaardes in te samel.

Aangesien Wanted se klublede van Graaff-Reinet en Middelburg is, het hulle dit vanjaar goedgedink om Huis Karee op Middelburg deel te maak van hul uitreikprojek.

Verlede Saterdag was die verba-sing groot op bejaardes se gesigte toe die brullende motorfietse tydens oggendtee by Huis Karee opdaag.

Die sitkamer was stampvol want dit was ook die verjaardagvieringe van Fienie du Bruyn (90) en Magaret Rademeyer (96).

Jay-Jay Schoeman, vise-president van Wanted motorfietsklub het ’n bemoedigende boodskap aan die bejaardes oorgedra voordat hulle die toiletware oorhandig het.

Die toiletware is aan Irene van der Walt van die tehuis oorhandig, waarna elkeen van die bejaardes ook ’n stywe drukkie ontvang het.

Aangesien die motorfietsryers ’n groot passie vir bejaardes het, beoog Wanted motorfietsklub om hierdie uitreik ’n jaarlikse instelling te maak. Hulle ondersteun ook Huis Van De Graaff op Graaff-Reinet.

Die Wanted klub bedank graag al die borge, veral Rolfe Laboratory, vir hul bydraes tot die uitreikprojek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article