MOSSELBAAI bult sy spiere om vir die eerste keer in die dorp se geskiedenis ’n Ysterman-kompetisie aan te bied. Dié IRONMAN 70.3 MOSSELBAAI is op die 2022 wêreldwye wedrenkalender gemerk vir Sondag, 6 November.
“Aangesien Mosselbaai een van die bes-bestuurde munisipaliteite in Suid-Afrika is, en IRONMAN as een van die bekendste sporthandelsmerke ter wêreld beskou word, is ons opgewonde oor die ekonomiese inspuiting vir die dorp en die blootstelling aan wêreldwye media wat hierdie vennootskap sal meebring,” sê waarnemende burgemeester, Dirk Kotze.
Deelnemers aan IRONMAN 70.3 MOSSELBAAI spring weg met ‘n 1.9km (1.2 myl) swem wat begin oorkant die ikoniese Santos Beach Pavilion, en die water verlaat by De Bakke in Santosbaai. Van hier af mik hulle vir die eerste oorgang voordat hulle die 90km (56 myl) fietsroete aanpak. Fietsryers sal op Georgeweg en Louis Fourie in die rigting van Albertina trap voor die N2 aangedurf word. Die omdraaislag gebeur by Gouritzrivier Vallei, net duskant Herbertsdale op die R327. Hul keer dan terug na Mosselbaai en maak gereed vir die volgende oorgang by De Bakke.
Laastens takel deelnemers die hardloopbeen van 21.1km (13.1 myl), met ‘n roete deur die hawe en historiese Sentraal-Mosselbaai, verby Dias Museum en dan tot by Die Punt, waar die eindstreep onder Cape St Blaize-vuurtoring sal wink.
“Volgende jaar se Mosselbaai byeenkoms beteken dat ons Suid-Afrikaanse wedrenopsies na die Wes-Kaap toe uitgebrei word, wat uiters opwindend is. Dis ‘n pragtige toeristebestemming met ‘n ryk geskiedenis wat besonder aantreklik is vir internasionale sowel as plaaslike gaste,” aldus Ironman Suid-Afrika besturende direkteur, Keith Bowler.
- Registrasie vir die IRONMAN 70.3 MOSSELBAAI is by www.ironman.com/im703-mossel-baai
– UITGEREIK: MOSSELBAAI TOERISME



